'n Doeltreffende vervoerstelsel is een van die regering se
prioriteite. In baie dele van Suid-Afrika vergelyk die spoor- en
pad-infrastruktuur goed met enige ander land ter wêreld. Nietemin bly dit vir
die regering 'n uitdaging om mobiliteit en toeganklikheid vir landelike gebiede
te verseker.
Die regering wil die vervoer-infrastruktuur verbeter om die koste van
openbare vervoer te verminder en die veiligheid van gebruikers te verseker. Die
fokus is op sleutelareas van vervoer, naamlik pad- en spoorvervoer.
Ten opsigte van spoorvervoer word die klem op die rehabilitasie van
passasierslyne geplaas ter bereiking van die regering se doelwitte van die
bevordering van openbare vervoer en passasiers se veiligheid.
Investering in spoorvervoer word deur die nasionale regering gefinansier.
Gauteng is die eerste provinsiale regering wat in spoorvervoer en die
inwerkingstelling van 'n sneltrein belê.
Suid-Afrika het 'n uitgebreide padnetwerk van ongeveer 752 000 km. Hiervan is
532 000 km geproklameerde nasionale en provinsiale paaie. Sowat 7 200 km is
onder beheer van die nasionale regering en word deur die Suid-Afrikaanse
Nasionalepaaie-agentskap bestuur.
Slegs 16,2% of 63 631 km van provinsiale paaie is geteer, terwyl die res
grond- of gruispaaie is. In Gauteng, wat die swaarste verkeerslas dra, is 46%
van alle paaie geteer. Die oorwegend landelike provinsies, soos die Noord-Kaap,
het die grootste persentasie ongeteerde paaie, maar hulle dra aansienlik minder
verkeer.
Inligting oor die padnetwerk en die gebruik daarvan dui daarop dat die
probleme in Gauteng wesenlik van dié in ander provinsies verskil. Gauteng het 'n
hoë bevolkingsdigtheid en 'n goeie padnetwerk wat met swaar verkeer gepaardgaan.
Dit noodsaak dié provinsie om ander oplossings vir sy verkeersprobleme te vind.
Ander provinsies het die probleme dat hulle toegang tot vervoer moet skep vir
'n bevolking wat vroeër geen toegang daartoe gehad het nie, en ook bestaande
paaie moet opgradeer en onderhou.
Die regering het van 1999/'00 tot 2001/'02 landwyd R11,6 miljard op nasionale
en provinsiale vlak aan paaie bestee. Provinsies het saam R8,9 miljard (of 77%)
bestee en toon 'n sterk jaarlikse gemiddelde groei van 28% op middeltermyn.
Die toekenning vir die herstel van paaie as gevolg van vloedskade het 'n
groot bydrae tot die instandhouding en herbouing gelewer. Dit is vergroot deur
die infrastruktuurtoekenning in 2001/'02.
Provinsies moet besluit of hulle die geld aan die bou van nuwe paaie,
onderhoud of opgradering van bestaande paaie wil bestee. Namate die
paaiebegroting verhoog word, is die tendens dat provinsies meer geld bewillig
vir instandhouding as vir die bou van nuwe paaie.
Daar word geraam dat die instandhoudingsbegroting in 2003/'04 met 24,2% tot
R3,2 miljard sal styg, en in 2005/'06 met 13,9% tot R3,8 miljard. Besteding aan
padbou beloop gemiddeld 40% van die paaiebegroting.
Die voltooide en beplande projekte in provinsies dui daarop dat teerpaaie
voorkeur geniet, maar dat die projekte soms ook die opgradering van gruispaaie
insluit. Dit is ook duidelik dat minder geld aan die opgradering van gruispaaie
bestee word.
Sommige provinsies het ook inisiatiewe aan die dag gelê om die bou van paaie
met behulp van klein kontrakteurs en vroue aan te pak. Die sukses waarmee sulke
projekte uitgevoer is, toon dat daar 'n potensiaal vir werkskepping en
armoedeverligting in hierdie projekte is.
Die finansiering vir die bou van nasionale paaie geskied deur nasionale
regeringstoekennings, openbare en private vennootskappe en lenings.
Van die 7 200 km paaie wat deur die nasionale regering bestuur word, beloop
oorbetalings aan die nasionalepaaie-agentskap R1,3 miljard vir 2003/'04 en word
die toekenning gebruik om 5 309 km paaie te onderhou.
Die agentskap het tussen 1999/'00 en 2002/'03 R435 miljoen ontvang om 55
ingenieursprojekte aan te pak. Die projekte behels meestal die herseëling van
paaie, dreinering en die bou van brûe in die Oos-Kaap en Limpopo.
Op die vlak van plaaslike regering het veral vroue baat gevind by die
projekte.
Die begroting vir paaie op dié vlak is aansienlik groter. Besteding word
geskat op R1,8 miljard in 2002/'03, wat die bydrae van ses metropolitaanse
gebiede van 50% of R892 miljoen insluit.
Die regeringsprogram wat belegging in spoorvoertuie ondersteun, het in
2001/'02 begin toeneem met investering van R691 miljoen in 2002/'03.
Regeringsplanne is om R2 miljard vir die rehabilitasie en onderhoud van
bestaande spoorvoertuie te bestee. Die investering sal eerder op vernuwing as op
die uitbou van kapasiteit fokus.
9 April 2003