|
|
|
| Bygewerk: | 26 May 13:00 IDT |
| Temp: | |
| Druk: | |
| Doupunt: | |
| Humiditeit: | 72% |
| Wind: |
Suid-Afrikaanse boere moet nie bang wees nie. Hulle sal nog lank in die land bly. Suid-Afrika is nie Zimbabwe nie en hy verseker boere, as lid van die uitvoerende komitee van die ANC wat in die Parlement sit, dat dieselfde nie hier sal gebeur nie.
Mnr. Manne Dipico, Premier van die Noord-Kaap, het op die 50ste bestaansviering van die Rietrivier-boerevereniging by Jacobsdal gesê sonder boere het Suid-Afrika geen toekoms nie. Die land se ekonomie en die hele land sal agteruitgaan sonder boere.
Suid-Afrikaanse boere het baie aan hul boerderye en plase bestee. Hulle moet dit kan benut tot die land se voordeel. Daarom bestaan geen beleid in Suid-Afrika dat grond gekonfiskeer sal word nie. Grondhervorming sal net geskied op 'n grondslag van gewillige verkoper en koper.
Hy het gesê pres. Thabo Mbeki het al verskeie onsuksesvolle pogings aangewend om pres. Robert Mugabe van Zimbabwe te oorreed om 'n ander pad met grondhervorming in sy land in te slaan.
Die probleem is dat Suid-Afrika nie sanksies teen Zimbabwe kan steun nie, omdat dit die stroom vlugtelinge na Suid-Afrika, tans die grootste probleem, sal laat toeneem. Oud-pres. Nelson Mandela het ook al pogings aangewend om die situasie te beredder, maar pres. Mugabe wil hom nie te woord staan nie.
Afrika is oop vir Suid-Afrikaanse boere. Hongersnood word wyd ervaar en Suid-Afrika se boere het 'n groot rol om te vervul om die vasteland weer gevoed te kry.
Die Suid-Afrikaanse landbou vind baie baat by uitvoer. Waar die land vroeër soos 'n weeskind op die internasionale markte was, kan hy nou op gelyke voet meeding. 'n Goeie voorbeeld uit sy eie provinsie is die groot hoeveelhede tafeldruiwe wat regstreeks van Upington af uitgevoer word.
Mnr. Dipico het gesê kommersiële boere moet nuweling-boere by hul verenigings betrek en hul ervaring en kennis met hulle deel. Boerdery is 'n besigheid. Daarom moet nuwe boere dit so kan hanteer om 'n sukses te maak. Suid-Afrika se grondhervorming sal net slaag as kommersiële boere met nuwe boere hande vat en saam aan 'n nuwe Suid-Afrika bou.
11 Oktober
Alle regte voorbehou. © Landbou.com 2011. In Suid-Afrika gepubliseer deur Media24