|
|
|
| Bygewerk: | 26 May 13:00 IDT |
| Temp: | |
| Druk: | |
| Doupunt: | |
| Humiditeit: | 72% |
| Wind: |
Meer geld is bewillig vir die Departement van Landbou en Grondsake, landbounavorsing en veiligheid en sekuriteit, maar dit word weer getemper deur 'n verhoging in brandstofheffings en aksynsbelasting.
In die Begroting word R1,072 miljard (R153 miljoen meer as in die vorige Begroting) aan die Departement van Landbou toegeken.
Meer as R300 miljoen, sowat 28 % van die totale Landboubegroting, word na die Landbounavorsingsraad oorgedra. 'n Bykomende R110 miljoen is oor die volgende drie jaar toegewys aan die Departement van Landbou se nasionale beheerdiens om 'n risikobestuursbeleid vir die bestryding van diere- en plantsiektes te ontwikkel en te monitor. Dit moet ook betaal vir die bevordering van voedselveiligheid, die benutting van geneties gemodifiseerde organismes en beter beheer by grensposte.
Vanjaar is R85 miljoen begroot vir die Departement van Landbou se vloedhulpskema.
Ook Grondsake kry vanjaar meer: Die totale toekenning is meer as R1,639 miljard. Dit is sowat 'n halfmiljoen meer as die vorige jaar. Van dié toekenning is onderskeidelik R854,914 miljoen en R430,452 miljoen vir grondhervorming geoormerk.
Mnr. Trevor Manuel, Minister van Finansies, het die herverdeling van grond, die herstel van grondregte en ondersteuningsprogramme aan die landbou in sy Begrotingsrede uitgesonder as van die maatreëls wat op medium termyn gebruik sal word om werkskepping en ontwikkeling te bevorder.
In die mediumtermyn-begrotingsraamwerk wat groei en ontwikkeling ten doel het, sal in die volgende drie jaar R1,9 miljard beskikbaar gestel word om grondhervorming en -restitusie te versnel.
In die lig van 'n toename in misdaad in die landelike gebiede, kry die Departement van Veiligheid en Sekuriteit R2,7 miljard meer oor drie jaar. Dit is veral om meer personeel aan te stel. Daar word egter nie spesifiek verwys na maatreëls om veiligheid op die platteland te verbeter nie.
Die hoër brandstofheffings tree op 2 April in werking. Dit is 4 c per liter op diesel, 3 c per liter op petrol met lood en 6,2 c tot 9,2c op loodvrye petrol.
Aksynsbelasting op tabak, tabakprodukte, wyn en bier word weer verhoog.
Belasting op Toegevoegde Waarde (BTW), boedel- en geskenkbelasting bly onveranderd.
(Lees ook berigte op bl. 72.)
7 Maart 2003Alle regte voorbehou. © Landbou.com 2011. In Suid-Afrika gepubliseer deur Media24