|
|
|
| Bygewerk: | 26 May 13:00 IDT |
| Temp: | |
| Druk: | |
| Doupunt: | |
| Humiditeit: | 72% |
| Wind: |
Die onlangse plaasaanvalle in die Wes-Kaap is nie 'n aanduiding van 'n neiging van meer plaasaanvalle in die Wes-Kaap nie, meen mnr. Johan Gelderblom, die provinsiale minister van landbou, omgewingsake en ontwikkelingsbeplanning.
Hy het gereageer op die moord op mnr. Sebastian van Reenen van Southfield, Philippi, asook die rooftog 'n paar dae vroeër op 'n bejaarde egpaar, mnr. Schalk en mev. Engela van Zyl, van die plaas Groenerivier, buite Stellenbosch. Mnr. Van Reenen is doodgeskiet toe vier mans die plaaswinkel beroof het waar hy gewerk het. Die Van Zyl-egpaar is deur gewapende rowers aangerand.
Mnr. Gelderblom sê hy veroordeel dié aanvalle ten sterkste en sê die veiligheid van boere en plaaswerkers is nie onderhandelbaar nie. Die provinsiale regering doen alles in sy vermoë om dit te bestry en hy en sy kollega vir gemeenskapsveiligheid, mnr. Leonard Ramatlakane, is voortdurend in gesprek.
Hy sê mense moet nogtans nie vinnige afleidings maak nie. Daar is nie bewyse dat hierdie voorvalle teen boere gerig was of dat dit meer was as rooftogte nie.
"Hoewel daar 'n landelike beveiligingsplan in werking is en ons gereeld boere waarsku om hul plase voldoende te beveilig en paraat te wees, is 'n mens geskok as plaasaanvalle steeds plaasvind," sê mnr. Johan Bothma, wat in beheer van landelike veiligheid by Agri Wes-Kaap is.
Hy het boere opnuut aangemoedig om by bestaande beveiligingstrukture betrokke te raak en dubbel versigtig te wees as hulle groot bedrae kontant hanteer, of vuurwapens in die huis het.
1 Augustus 2003Alle regte voorbehou. © Landbou.com 2011. In Suid-Afrika gepubliseer deur Media24