|
|
|
| Bygewerk: | 26 May 13:00 IDT |
| Temp: | |
| Druk: | |
| Doupunt: | |
| Humiditeit: | 72% |
| Wind: |
Baie boere is moedeloos omdat grondhervorming, lae produsentepryse en hoë produksiekoste hullelaat wurg. Veral politieke inmenging in landbousake is ongewild. Sommige landbouers wil oorsee na groener weivelde gaan soek. 'n Bekende leierboer vertel hoekom hy nie só pessimisties is nie en waarom hy hier sal bly.
As sewende geslag Schoeman in Suid-Afrika en boer in murg en been, sal niks en niemand hom uit sy vaderland laat padgee nie. Hieroor is mnr. Kallie Schoeman, gesagvoerder van die omvangryke Schoeman-boerdery, SA Boer van die Jaar vir 1991 en boereleier op vele terreine, baie beslis.
Hierdie seun van die eertydse geliefde Minister van Landbou, wyle mnr. Hendrik Schoeman, het op die jaarlikse Riemland-rooivleisekspo op Parys redes gegee hoekom hy sal aanhou boer in Suid-Afrika, ondanks slegte dinge wat baie mense moedeloos maak.
Die Schoeman-boerdery se belange strek oor talle distrikte en wissel van mielies en droëbone by Delmas tot sitrus by Groblersdal. Hulle het 'n droëboonfabriek op Delmas waar die boerdery sy eie droëbone en ander boere s'n skoonmaak, uitsoek en verpak. Verder bedryf hulle 'n kunsmisaanleg op Marble Hall wat organiese kunsmis vervaardig vir sproeibemesting op permanente gewasse in die Loskop-vallei.
Die boerdery het jare gelede by die waardeketting betrokke geraak, wat noodsaaklik vir oorlewing is. 'n Rooibok moet vinniger as 'n leeu wees, anders word hy gevang, terwyl die leeu vinniger as die ander leeus moet wees om kos te kry. "Dit is dus nie noodwendig groot wat vir klein gaan insluk nie, maar eerder vinnig wat vir stadig gaan weghardloop," sê hy.
Die landbou in Afrika is kliphard. Niemand het egter gesê dit is maklik om te boer nie. Die Bybel sê as jy hard werk, sal jy kos hê om te eet. Dit sê niks van 'n strandhuis, viertrekvoertuig en jagplaas nie; net dat 'n mens hard moet werk.
"Ek wil en gaan hier bly en is geensins van plan om pad te gee na 'n ander land nie," sê hy. Dit sal egter vir enige boer moeilik wees om vorentoe die mas alleen op te kom. Vennootskappe is die antwoord.
Die eerste belangrike vennootskap is die boer se vennootskap met sy vrou. "Daar is geen beter kombinasie as om jou vrou as vennoot te hê nie," beklemtoon Schoeman. 'n Vrou dink dikwels anders as 'n man en sien menige keer gevaar waar die boer dit miskyk. Dit is dus raadsaam om haar as klankbord vir nuwe gedagtes en planne te gebruik.
Die risiko's in die landbou is hoog en opbrengste dikwels laag. Daarom lyk dit moeilik om geld uit die landbou te maak. Die groot maatskappye wat baie geld in die landbou belê het, het reeds uitgeklim.
Nogtans is daar baie boere wat aanhou boer én geld maak. Aanpasbaarheid is die antwoord. Die boer moet hom by veranderende toestande aanpas. Die toekomsdenker mnr. Clem Sunter vergelyk dit altyd met die krimpvarkie en die jakkals. 'n Krimpvarkie pas nie aan nie en staan gevaar om uit te sterf. Die jakkals pas hom daarenteen oral aan en g'n skaapboer kon nog daarin slaag om jakkalse uit te roei nie. "As jy in die saal wil bly, moet jy dus aanpasbaar wees," sê Schoe-man.
Baie mense beweer 'n familieboerdery kan nie werk nie. Dit ís egter 'n vennootskap wat werkbaar is. Schoeman het sy suster, Madel, as voorbeeld genoem en gesê as hulle ná hul pa se dood nie besluit het om 'n familievennootskap te sluit nie, sou hul gesamentlike boerdery vandag 'n derde kleiner gewees het. Families het dieselfde waardes, wat voordelig vir 'n boerdery is.
Baie jong mense keer deesdae terug plaas toe om saam met pa te boer. Die jonges het die voordeel dat hulle dalk meer aanpasbaar as hul pa is en 'n entrepreneursdrang het.
Hy het gesê grondhervorming skrik baie mense af. Sulke mense waarsku dat dieselfde hier gaan gebeur as wat Zimbabwe se kommersiële boere oorgekom het. Pres. Robert Mugabe vat hul grond links en regs af en verwoes die landbou.
Schoeman het vyf redes gegee hoekom "'n tweede Zimbabwe" nie Suid-Afrika se voorland is nie:
BSuid-Afrika geniet absolute persvryheid, terwyl die pers in Zimbabwe onderdruk word en Mugabe die koerante toegemaak het wat teen hom kant gekies het. In Suid-Afrika geniet die Regering nie hierdie "beskerming" teen die media nie, wat dus die reg het om onregmatighede en skandale te verkondig. Suid-Afrika se sowat 280 koerante getuig van hierdie mate van persvryheid, terwyl Zimbabwe nie meer een onafhanklike koerant het nie.
BDie feit dat die ANC 'n twee derde-meerderheid het, is nie 'n bedreiging nie, want dit veroorsaak dat die ANC sélf nie bedreig voel nie en dus nie aan 'n party soos die Kommunistiese Party hoef gunsies uit te deel ter wille van steun nie.
"Hou hierdie faktore in gedagte as mense weer die Zimbabwe-spook probeer opjaag," sê Schoeman.
Die vraag is egter wat 'n boer moet doen om te oorleef. Die belangrikste is om hoopvol te bly en aan planne te dink om dinge in Suid-Afrika te laat slaag, soos grondhervorming. Nog net 4 % van die hoeveelheid grond wat die Regering geoormerk het vir sy doelwit om 30 % van die landbougrond in swart besit te kry, het van hande verwissel in die afgelope 11 jaar; dus is daar net nege jaar oor vir die oorblywende 96 % om in 2015 by die doelwit te kom.
Daar is dus druk op almal, maar as die proses nie versnel nie, sal die druk later te veel word. Gevolglik is daar nie nou meer tyd vir 'n stadige oordragproses nie. Grondhervorming gaan in elk geval later meer van almal verg en samewerking deur 'n ieder en 'n elk is noodsaaklik om dit vinniger te laat verloop, anders kan die gevolg dalk 'n revolusie wees.
Mense moet nie die leiers oor grondhervorming veroordeel nie. Kritiseer eerder die beleid en los leiers soos landbouminister Thoko Didiza uit. Hulle voer net 'n beleid uit.
Schoeman sê hy beskou dit as sy plig om die werkers op sy plaas wat al geslagte lank vir die Schoemans werk, te help om aan die boerdery deel te neem; nie net om aandeelhouers te word ingevolge die beleid vir swart ekonomiese bemagtiging in die landbou (AgriSEB) nie, maar selfs om almal te leer lees en skryf. Deur 'n trust te vorm, kan dit vir swart werkers ook moontlik word om in die boerdery in te koop. Dan het hy kundige werkers wat ook lojaal is, omdat dit ook húl besigheid is.
Schoeman het gesê sy oupa Karel Schoeman het altyd gesê 'n mens het twee ente: Een om op te sit en een om mee te dink. "Sukses hang af van met watter een jy dink. Kop, dan wen jy; stert, dan verloor jy."
14 Oktober 2005
Alle regte voorbehou. © Landbou.com 2011. In Suid-Afrika gepubliseer deur Media24