Die georganiseerde landbou meen weens Eskom se kragtariefverhoging gaan baie boerekliënte dié kragvoorsiener die rug op keer.
“Ons gaan hierop reageer deur na alternatiewe kragbronne te kyk en ek dink Eskom gaan nou ‘n groot deel van hulle inkomste van boere af verloor.”
Dit is die reaksie van mnr. Henk Vermeulen, die hoofbestuurder van Vrystaat Landbou, na die Nasionale Energie Reguleerder (Nersa) ‘n 24,8% kragtariefverhoging vir Eskom goedgekeur het.
Luidens ‘n artikel op Fin24.com sal kragtariewe vanjaar met 24,8% styg, terwyl dit volgende jaar met 25,8% en in 2012 met 25,9% gaan styg. Die algemene prys van krag sal vanjaar dus met 41,57 sent per kWh styg. In 2011 sal die styging 52,3 sent per kWh wees en in 2012 sal dit met 65,85 sent per kWh toeneem.
Eskom het aanvanklik vir ‘n jaarlikse kragtariefverhoging van 45% oor die volgende drie jaar gevra. Dié versoek is later na 35% verminder. Kragtariewe is verlede jaar met 31% verhoog.
Groot probleme kom
Vermeulen sê die verhoging gaan groot probleme veroorsaak. “Ons gaan groot krisisse kry. Besproeiingsboere en melkboere kan nie dié verhoging bekostig nie. Maar baie ander boere kan dit ook nie bekostig nie”, vertel Vermeulen.
Boere is nie net vir hulle eie kragkostes verantwoordelik nie, hulle moet ook hulle werkers se kragkostes dra. “’n Gewone boer wat ‘n kragrekening van R3 000 gehad het, se rekening het na verlede jaar na R8 000 gestyg. Kan jy dink wat dit met dié verhogings gaan beloop?”, vertel Vermeulen.
Beter as ‘n 35% styging
Intussen sê Mnr. Hans van der Merwe, die hoofbestuurder van AgriSA, hy is positief oor die feit dat dit nie ‘n 35% verhoging is nie. “Ja, dis nie gewens nie, maar ‘n verhoging was, weens Eskom se posisie, onvermydelik.”
Hy sê dié verhoging is steeds ‘n groot terugslag, maar hulle vind is darem bly dat dit nie 35% was nie. Hy en mnr. Johannes Möller, die voorsitter van Agri SA, het kortliks ná Nersa se openbare verhoor oor die verhogingsaansoek aan Landbou.com gesê hulle meen die verhoging sal in die omgewing van 20% wees.
Verhoging verwerp
Die TLU SA sê hy verwerp die jongste kragtariefverhoging. Luidens ‘n verklaring sê mnr. Ben Marais, voorsitter van die organisasie, die feit dat slegs ‘n 24,8% verhoging vir 2010 goedgekeur is, is sielkundige bedrog en geensins ‘n verligting nie.
“Tydens die sogenaamde openbare voorleggings oor die verhoging, het Nersa sy bes gedoen om belanghebbendes, met geldige besware, te weerhou om hulle voorleggings te maak, en hulle het geskuil agter kleinlike administratiewe reëlings, ondersteun deur patetiese kommunikasie, om mondelingse getuies te keer,” vertel Marais. Hy sê hulle het gesukkel om met Nersa te kommunikeer om ‘n voorlegging by die openbare verhore ter tafel te lê.
Bron: Nuus24
24 Februarie 2010
Kommentaar
Ons is hier in Amerika en vervaardig WIND TURBINE KRAG GENERATORS. Vervaardig jou eie krag met hierdie WIND TURBINE KRAG GENERATORS. Die krag wat jy fabriseer is verniet want die wind net n klein bietjie wind het jy nodig om onmidellik elektriesieteit te produseer. Die produk is ook nie duur nie en meeste huis eienaaars of Boere sal die WIND TURBINE KRAG GENERATOR kan bekostig. Kontak ons by gratiskrag@gmail.com Ons sal julle help.
Al wat Eskom kort is 'n nuwe bestuur, nie hierdie verhogings nie. Agri SA se kommentaar is swak. Was dit nie vir TLU SA, Soldariteit en Afriforum nie, was ons lankal in die drein af. Mag julle gaan van krag tot krag, met die nodige Leiding van Bo.
Lewer kommentaar. (Jy hoef nie ingeteken te wees nie.)