|
|
|
| Bygewerk: | 26 May 13:00 IDT |
| Temp: | |
| Druk: | |
| Doupunt: | |
| Humiditeit: | 72% |
| Wind: |
Statistieke SA het bekend gemaak dat die verbruikersprysindeks (VPI) in Desember verlede jaar na 6,3% gestyg het, terwyl die produksieprysindeks (PPI) op 0,7% te staan gekom het.
Die VPI het met 0,5% gestyg nadat dit in November verlede jaar 5,8% was. Die PPI het met 1,9% gestyg vergeleke met November verlede se negatiewe syfer van 1,2%.
Me. Doret Els, ekonoom vir die Quantum Wealth-groep, sê met betrekking tot inflasie styg voedselpryse baie stadiger as vorige jare, wat dié pryse se bydrae tot inflasie verminder het.
Sy meen egter dat die toepassing van Eskom se kragtariefverhogingsvoorstel van 35% per jaar aanvanklik 0,6 persentasiepunte tot die VPI-syfer gaan byvoeg. Dit gaan ook ‘n verdere uitwerking op inflasie hê met betrekking tot hoër insetkoste en produkpryse.
Redes vir die stygings
Els sê sy neem ook in ag dat ondernemings moontlik hulle pryse opwaarts gaan aanpas tydens die Wêreldbekertoernooi-sokkertoernooi. “Gegewe al dié faktore, verwag ons ‘n inflasiegemiddeld van 5.8% in 2010”.
Volgens Els was daar twee onderliggende redes vir die styging van die VPI. Die eerste was ‘n styging in behuisings- en elektrisiteitskoste, en die tweede die styging in die pryse van verskeie goedere en dienste.
Sy sê kragpryse het in Desember verlede jaar, jaar-op-jaar, met 23,4% gestyg, terwyl die prys van dienste vir die ooreenstemmende tydperk met 7,2% gestyg het.
Voedsel het 0,4 persentasiepunte tot die oorhoofse syfer bygedra, voeg sy by. Wat die PPI betref verduidelik Els dié styging aan die hand van ‘n styging in kommoditeitspryse in spesifiek die mynbou-, petroleum- en steenkoolsektore.
Uitwerking van die landbou op inflasie
Volgens Els is die landboubedryf se uitwerking op die VPI in voedselpryse gesentreer. Sy sê skerp stygings in voedselpryse in 2006 en 2007 het verlede jaar verlangsaam.
“Voedselprysinflasie het in Desember verlede jaar teen slegs ‘n sesde van die tempo gestyg as waarmee dit in Januarie van dieselfde jaar versnel het”.
Die voedselafdelings wat die meeste tot die daling bygedra het was brood, graanprodukte en vleis. Els sê pryse van brood en graanprodukte was in Desember verlede jaar 3,2% laer as in Desember 2008. Sy meen dat vleispryse moontlik ‘n plato bereik het.
“Vleispryse het in die eerste helfte van 2009, jaar-op-jaar, met 9,6% gestyg, terwyl die styging vir die laaste deel van 2009 slegs 2,4% was”.
Wat die PPI betref het die voedselafdeling stygings in die pryse van oliesade, vrugte en neute getoon, en dalings in die pryse van graanprodukte en groente. Die pryse van eiers en sogenaamde ‘lewendige diere’ het gestyg.
Lees ook:
Rentekoers dalk onveranderd vir 2010
29 Januarie 2010
Alle regte voorbehou. © Landbou.com 2011. In Suid-Afrika gepubliseer deur Media24
Kommentaar
Lewer kommentaar. (Jy hoef nie ingeteken te wees nie.)