Eskom se styging 'ongemaklik hoog’

 

Die elektrisiteistariefverhoging van 24,8% wat die Nasionale Energiereguleerder (Nersa) aan Eskom toegestaan het, is “ongemaklik hoog”, sê mnr. Tony Twine,  ekonoom van die Econometrix-groep.

Hy sê omdat elektrisiteitspryse sowat 1,7% van die verbruikersprysindeks (VPI) uitmaak, gaan die verhoging ‘n uitwerking op inflasie hê.

Twine sê die verhoging sal ‘n direkte uitwerking van 0,46% op maandelikse inflasie hê, terwyl die indirekte uitwerking ‘n verdere 0,5% styging tot gevolg sal hê. Hy meen dat die tariefverhoging die inflasiekoers tussen April en Junie vanjaar sal laat styg, waarna dit moontlik weer kan afplat.

Nersa het vandag ook bekend gemaak dat kragtariewe in 2011 met 25,8% sal styg, en in 2012 sal die styging 25,9% wees.  “Ek dink nie genoeg potlode is skerp gemaak om die volle reeks geleenthede om Eskom te kapitaliseer na te gaan en te oorweeg nie,” sê Twine.

Lees ook:

Eskom kan inflasie opstoot

Verbruikersprysindeks daal

Die VPI het in Januarie vanjaar met 0,1% gedaal. Luidens ‘n verklaring van Statistieke SA het pryse tussen Desember verlede jaar en Januarie vanjaar met 0,3% gestyg. Die inflasiekoers het in Desember 2009 uit die Reserwebank se teikenband van 3% tot 6% beweeg en op 6,3% te staan gekom.

Statistieke SA sê die indeks van voedsel en nie-alkoholiese drankies het met 0,7% gestyg. Die grootste dryfvere agter dié styging was ‘n maandelikse styging in die pryse van onder meer vrugte, vleis, groente, suiker, lekkergoed, melk, eiers, kaas en warm drankies. ‘n Verlaging in die pryse van vet en olie-produkte het die stygings teengewerk.

Lees ook:

VPI: Groentepryse styg 78%

Die vervoerindeks het met 3,8% gestyg. Die indeks het vir Januarie 2010 op 6,2% te staan gekom, terwyl dit in Desember 2009 3,4% was. 

Laer as verwag
Die koers is laer as wat hy verwag het, sê Twine. Hy sê nadat die land se groeisyfers vir die vierde kwartaal van verlede jaar ‘n styging van 3,2% aangeteken het, het hy gemeen die Reserwe Bank sal nie verdere rentekoersverlagings oorweeg nie.

“Die inflasieverlaging kan moontlik die deur vir ‘n verdere rentekoersverlaging oopmaak,” verduidelik hy. 

24 Februarie 2010

0
 
 

Kommentaar

Lewer kommentaar. (Jy hoef nie ingeteken te wees nie.)

Jou e-pos adres sal nie vertoon word nie.