|
|
|
| Bygewerk: | 26 May 13:00 IDT |
| Temp: | |
| Druk: | |
| Doupunt: | |
| Humiditeit: | 72% |
| Wind: |
Die melkbedryf het lanklaas sulke fluktuasies ondervind met pryse wat op dieselfde dag in die suide daal en in die noorde styg, sê mnr. Bertus de Jongh, uitvoerende bestuurder van die Melkprodusente-organisasie (MPO).
Hy het dié stelling tydens die MPO-Noord en dié organisasie se nasionale jaarvergadering in Johannesburg gemaak.
“Ek het dit baie lanklaas ondervind dat ons ingelig word van ‘n melkprys-daling in die suide terwyl ‘n prysverhoging op dieselfde dag in Noordwes aangekondig word.”
Redes vir die stand van sake?
De Jongh sê die stand van sake in die bedryf is veral klimaatgedrewe. Hy sê die droogte in die Wes-, Suid- en Noord-Kaap het daartoe gelei dat boere hulle diere ruvoer gevoer het, aangesien die weidings onvoldoende was.
“Weens dié rede het baie van hulle meer melk gelewer teen ‘n hoër koste as gewoonlik. Die bedryf het egter verwag dat die droogte tot ‘n laer melkproduksie sou lei en invoerkontrakte is aangegaan. Meer melk is egter gelewer, en tans word baie invoerkontrakte gekanselleer,” sê hy.
Volgens De Jongh maak Parmalat se strategiese bestuur ook ‘n groot verskil aan veral boere in die suide se ekonomiese omstandighede.
Minder kaas
Die feit dat verbruikers, weens die ekonomiese druk waaronder hulle verkeer, byvoorbeeld minder kaas koop, dra ook tot boere se probleme by. “Die suidelike streek is ons kaasstreek, so dit raak hulle ook,” sê De Jongh.
“Ons is baie bekommerd oor die fluktuasies, en ons vermoed dat stabiliteit in die bedryf eers teen Maart 2011 sal terugkeer, maar dit gaan nie noodwendig vir alle produsente ‘n uitkoms wees nie,” sê hy.
Intussen sê dr. Koos Coetzee, hoofekonoom vir die MPO, dat die voorspelling vir die bedryf vir die lente-seisoen moeilik en onseker is. “Melkprodusente moet maar versigtig wees en mooi beplan.”
25 Augustus 2010
Alle regte voorbehou. © Landbou.com 2011. In Suid-Afrika gepubliseer deur Media24
Kommentaar
Die mielieprys het met R600 af gekom, maar voerpryse het niks af gekom nie. Hoekom kyk die MPO nie na dit vir die boere nie? Begin iets doen vir die boere MPO.
Die ou melkraad het baie beter na die boere gekyk as wat die MPO doen.
Die MPO is die melkkopers se skoothondjie hulle mislei die boere.
Om dinge nog erger te maak sien ons by ons plaaslike Kooperasie Handelstak dat n 5l Brent Supersan kan se prys opspring vanaf R140 na R193. Kan die verskaffers vir die melkboere verduidelik?
Ek is in die Noordwes en my prys met met 30c gedaal die MPO het vier maande trug gese daar is n tekort, nou is daar oorvloed. Die MPO is net so wisselvallig soos die melkprys.
Lewer kommentaar. (Jy hoef nie ingeteken te wees nie.)