JAN CILLIERS
Melk SA het op sy pas afgelope direksievergadering besluit om gou met 'n reklameveldtog vir die gebruik van melk te begin. Dit sal veral op skoolkinders gemik wees.
Mnr. Bertus de Jongh, hoof uitvoerende beampte van Melk SA, het gesê die veldtog sal opvoedkundig van aard wees en die gebruik van melk as gesondheidskos uitdra.
Hy het gesê navorsing en ondervinding het uitgewys dat wan- en ondervoeding een van Suid-Afrika se groot probleme is wat tot allerlei siektetoestande lei. Deur melk te gebruik, kan kinders se weerstandsvlakke teen siektes aansienlik verhoog word.
Die reklameveldtog sal daarop gemik wees om die publiek tot gesonder eetgewoontes aan te spoor deur meer melk te gebruik.
Voorts het die direksie in beginsel aanvaar om 'n suiwermelk-merk te ontwikkel. Die huidige merk sal teruggetrek word. Die Suiwelstandaarde-agentskap het reeds 'n komitee aangestel om só 'n merk te ontwerp om saam met die opvoedkundige reklameveldtog te gebruik.
Melk SA is ook bekommerd oor die stand van die nasionale melkaantekeningskema.
Mnr. De Jongh het gesê Melk SA maak 'n groot finansiële bydrae tot dié skema sodat dit meer bekostigbaar vir boere kan wees. 'n Komitee is aangestel om die stand van die skema te ondersoek en so gou moontlik terugvoering aan MPOSA te gee.19 September 2003