|
|
|
| Bygewerk: | 26 May 13:00 IDT |
| Temp: | |
| Druk: | |
| Doupunt: | |
| Humiditeit: | 72% |
| Wind: |
Die Kommissie op die Herstel van Grondregte is vasbeslote om pres. Thabo Mbeki se mikpunt dat alle grondeise teen einde volgende jaar afgehandel sal wees, te haal. Die kommissie waarsku egter dat hy heelwat meer geld en personeel nodig gaan hê.
Volgens mnr. Mashile Mokono, grondeisekommissaris van Limpopo, moet 27 240 van die 79 000 grondeise wat ontvang is, nog afgehandel word. Die meeste van die uitstaande eise is landelik en gaan grondbesit beïnvloed. Tot dusver is die meeste eisers met geld vergoed. Dit raak onder meer kommersiële plase, waarvan sommige groot boerderymaatskappye is, wildplase en bewaringsgebiede.
Hy het in 'n voorlegging aan die Nasionale Vergadering se komitee oor landbou en grondsake gesê die kommissie gaan na raming minstens R13 miljard nodig hê om die oorblywende eise af te handel, terwyl sy begroting vir vanjaar net R933,23 miljoen is. In 2005/06 is dit R1,157 miljard. Hy sê geld wat vir die boekjaar 2006/07 begroot is, gaan nou reeds toegedeel word, wat effens sal help.
Die kommissie het tans net 390 personeellede in die 511 poste wat gefinansier word en het 'n personeelkorps van minstens 724 nodig. Mokono sê omdat die kommissie se oorblywende leeftyd kort is, soek personeel nou al nuwe werk en sukkel hy om nuwe personeel te kry. Daar word geprobeer om permanente poste binne die Departement van Grondsake te skep. Sommige funksies van die kommissie word uitgekontrakteur.
Mokono sê eise wat teengestaan word, buitensporige pryse vir grond en eisers wat nie alternatiewe grond as vergoeding wil hê nie, is van die ander faktore wat die proses vertraag. Die kommissie is gereed om die onteieningsklousule in die Wet op die Herstel van Grondregte as laaste uitweg te begin gebruik.
Talle eise wat in die hof betwis word, sal waarskynlik nie teen die teikendatum afgehandel wees nie.
18 Junie 2004Alle regte voorbehou. © Landbou.com 2011. In Suid-Afrika gepubliseer deur Media24