JAN CILLIERS
Die Suid-Afrikaanse Melkverwerkersorganisasie (Sampro) het 'n aansoek by die Minister van Landbou en Grondsake ingedien vir die instelling van 'n statutêre heffing op melk wat deur lede van die sekondêre melkbedryf betaal sal word. Die doel van dié hefGfing is om generiese reklame vir melk te finansier.
Die minister het die saak na die Nasionale Landboubemarkingsraad vir ondersoek verwys. Dié raad moet binne twee maande aan haar verslag doen.
Volgens 'n woordvoerder van die raad vra die aansoek vir die verpligte registrasie van alle sekondêre betrokkenes in die bedryf, insluitend kopers, verspreiders, verwerkers, invoerders en uitvoerders van melkprodukte.
Meer inligting hieroor is by die bemarkingsraad se kantoor in Pretoria beskikbaar en enigeen wat kommentaar wil lewer of beswaar wil opper, moet dit skriftelik voor 25 Julie doen. Voorleggings moet gestuur word aan die Voorsitter, NLBR, Private Sak X935, Pretoria 0001. Dit kan ook per faks gestuur word aan 012 341 1912 of per e-pos aan
donald@namc.co.za.11 Julie 2003