Jan Cilliers
Die Mielietrust is in 'n ernstige penarie. Daar is heelwat geld vir navorsing, ontwikkeling en inligtingsprogramme, maar die trust het nie meer 'n kworum om besluite te neem nie.
Mnr. Bully Botma, voorsitter van die trust, sê die dienstermyn van vyf van die ses trustees het op 31 Augustus vanjaar verstryk. Drie van die trustees, 'n witmielieprodusent, 'n geelmielieprodusent en 'n mielieverwerker, is reeds deur die onderskeie bedrywe aangewys. Die ander drie word deur me. Thoko Didiza, Minister van Landbou en Grondsake, aangewys as ministeriële verteenwoordigers.
Sy moes haar konsultasieproses in Junie vanjaar afgehandel het en die drie verteenwoordigers aangewys het - waarna hulle deur die Meester van Hooggeregshof goedgekeur word. Die proses van goedkeuring kan tot ses weke duur.
Mnr. Botma sê die trust het sedert sy totstandkoming in 1998 al sowat R80 miljoen vir navorsing, ontwikkeling en inligting beskikbaar gestel. Nou het die proses tot stilstand gekom weens die minister se versuim om haar verteenwoordigers aan te wys.
By navraag het 'n amptenaar net gesê die minister het 'n druk program, gevolglik kon sy nog nie aan dié saak die nodige aandag gee nie.
11 Oktober 2002