|
|
|
| Bygewerk: | 26 May 14:00 IDT |
| Temp: | |
| Druk: | |
| Doupunt: | |
| Humiditeit: | 68% |
| Wind: |
Die George-munisipaliteit meen daar sal nog net genoeg water tot begin Februarie volgende jaar wees as die dorp se huidige watervoorrade in ag geneem word en deurdringende reën nie binnekort in die gebied val nie.
Die munisipaliteit sê in ’n verklaring dat die afgelope jaar een van die droogste tydperke in die afgelope 132 jaar in George is. Die weerkantoor op die George-lughawe sê die totale reënval vanaf Januarie tot en met einde September vanjaar is 261,7 mm, terwyl die gemiddelde jaarlikse reënval vir dieselfde tydperk gewoonlik 632 mm is. Die vorige soortgelyke droogte het in 1903 voorgekom, toe 350 mm reën van Januarie tot September in die gebied geval het.
Me. Lindsay Mooiman, die adjunk senior bestuurder van siviele ingenieursdienste, sê die George-dam is tans 22 % vol. Streng waterbeperkings word toegepas en elke huishouding in George mag net 15 kiloliter water per maand gebruik. Derhalwe moet gesinne water by hul huise hergebruik deur byvoorbeeld tuine met wasgoed- of skottelgoedwater nat te lei. Sy sê as die watervlak laer as 15 % daal, sal nóg strenger waterbeperkings ingestel word. Die situasie kan vererger, aangesien laer as normale reënval vir die volgende vier tot vyf maande voorspel word.
Eden-rampbestuur het ’n aansoek om R83 miljoen vir droogteramphulp vir George by die provinsiale regering ingedien. Die goedkeuring daarvan berus egter op nasionale vlak.
Boere is intussen gespanne oor wat van middel Januarie tot middel Maart volgende jaar in die omgewing gaan gebeur omdat dit die gebied se droogste en warmste tyd is. Mnr. Stephan Gericke, voorsitter van die George-boerevereniging, sê sowat 90 % van die landelike gebiede is van hul eie water afhanklik. Talle boere ry tans water vir hul diere aan.
Hy sê reënbuie kom in die gebied voor, maar daar val nie deurdringende, sagte reën wat watervoorrade voldoende kan aanvul nie. Die gebied het 80 mm tot 140 mm nodig om uit die greep van die droogte te kom.
Lees ook:
8 Desember 2009
Alle regte voorbehou. © Landbou.com 2011. In Suid-Afrika gepubliseer deur Media24
Kommentaar
Lewer kommentaar. (Jy hoef nie ingeteken te wees nie.)