|
|
|
| Bygewerk: | 26 May 14:00 IDT |
| Temp: | |
| Druk: | |
| Doupunt: | |
| Humiditeit: | 68% |
| Wind: |
Me. Thoko Didiza, Minister van Landbou en Grondsake, gaan 'n komitee aanstel om die gevolge van die deregulering van landboumarkte en die afskaffing van bemarkingsrade te ondersoek.
Sy vra dat kenners op die gebied van landboubemarking hulself beskikbaar moet stel om op dié komitee te dien. Daar word verwag dat die komitee sy hersiening binne 'n tydperk van ses maande moet afhandel en 'n verslag met aanbevelings aan die minister moet oorhandig.
Daar is in 1994 met die deregulering van markte begin en Didiza sê sedert die Wet op die Bemarking van Landbouprodukte meer as ses jaar gelede geïmplementeer is, is daar nog nie deeglike hersiening gedoen oor die invloed wat dit op die bemarking van landbouprodukte het nie.
Die nuwe wet het ook gelei tot die skep van die Nasionale Landboubemarkingsraad wat die sluiting van die onderskeie beheerrade moes afhandel en moes toesien dat statutêre maatreëls in plek kom om aan die vereistes van die wet te voldoen.
Didiza sê landboumarkte funksioneer in 'n dinamiese omgewing. Daarom is dit nodig om die wetlike raamwerk waarbinne dié markte moet werk, voortdurend te hersien om harmonie tussen die markomgewing en wetgewing te verseker.
Kandidate wat vir die hersieningskomitee aansoek doen, moet geskikte opleiding en praktiese ervaring van die werking van landboumarkte hê. Die komitee sal uit nege lede bestaan en die spertyd vir aansoeke is 21 Mei. Navrae kan gerig word aan mnr. Billy Morokolo by tel. 012 319 6450, faks 012 319 6127 of e-pos: SMDM@nda.agric.za
Alle regte voorbehou. © Landbou.com 2011. In Suid-Afrika gepubliseer deur Media24