|
|
|
| Bygewerk: | 26 May 14:00 IDT |
| Temp: | |
| Druk: | |
| Doupunt: | |
| Humiditeit: | 68% |
| Wind: |
Die Land Bank se jongste finansiële state dui aan dat sake by die bank verbeter, maar mnr. Pravin Gordhan, Minister van Finansies, wil weet wat vir die toekoms beplan word.
“Die Land Bank het ‘n positiewe ommeswaai ondergaan. Ek het vanoggend egter gesê ek weet sy sake lyk beter, maar ek wil nou weet wat hy beplan vir die pad vorentoe en hoe hy by die groei van die landbousektor betrokke gaan raak.” Dit was die reaksie van Gordhan gedurende die bekendmaking van die Land Bank se finansiële resultate vir die 2009/’10-geldjaar.
“Ek het baie belangrike vrae gevra oor die stand van sake binne die landbousektor van Suid-Afrika en watter rol die bank in dié sektor speel en gaan speel. Hoe gaan dit ‘n unieke rol vervul en meer energie in die sektor vir opkomende boere, maar ook die landbougemeenskap as ‘n geheel, inblaas?” het hy gevra.
Gordhan sê die Land Bank is ‘n baie goeie voorbeeld van watter skade ‘n opportunistiese benadering vir die bevordering van die elite aan ‘n instansie kan aanrig. “Dié individuele bevoordeling is ‘n kultuur wat binne regeringsinstansies uitgewis moet word.”
Klik hier om na 'n video te kyk van Gordhan se mening oor opportunisme in die Regering.
Verdeeldheid binne die sektor
Hy het ook opgemerk dat aandag aan die verdeeldheid wat binne die sektor bestaan gegee moet word sodat die sektor kan groei. Hy meen die “magic” wat tydens die Wêreldbeker-sokkertoernooi in die land ervaar is, kan ook in die landbousektor kan voorkom, mits die verdeeldheid aangespreek word.
As die voorsitter van die Land Bank se raad gaan Gordhan en sy kollegas binne die volgende maande twee voorstelle aan die Kabinet voorlê. Die eerste is ‘n voorstel van hoe die bank opkomende boere kan ondersteun, en die tweede is ‘n waardekettingfinansieringsmodel wat steun aan die hele sektor sal bied.
Volgens Gordhan moet die 3% bydra van die sektor tot die land se groeisyfer aansienlik verhoog word.
Voedselsekerheid
Die Verenigde Nasies se jongste opname oor voedselsekerheid het aangedui dat voedselproduksie teen 2020 met sowat 20% moet verhoog om aan internasionale vraag te voldoen. Gordon sê Afrika as ‘n vasteland, en Suid-Afrika, kan ‘n groot rol speel hierin as die grond wat tans nie gebruik word nie, produktief aangewend word.
“Sou die grond wat tans nie produktief in Afrika aangewend word nie optimaal gebruik word, kan Afrika ‘n groot deel tot die wêreld se voedselsekerheid bydra. Daar moet egter ook seker gemaak word dat dié produkte nie net vir lande buite die vasteland aangewend word nie, maar ook vir Afrikalande self.”
19 Augustus 2010
Alle regte voorbehou. © Landbou.com 2011. In Suid-Afrika gepubliseer deur Media24
Kommentaar
Lewer kommentaar. (Jy hoef nie ingeteken te wees nie.)