|
|
|
| Bygewerk: | 26 May 14:00 IDT |
| Temp: | |
| Druk: | |
| Doupunt: | |
| Humiditeit: | 68% |
| Wind: |
Die geweldige voedselkrisis in Afrika kan veroorsaak dat Suid-Afrika, wat nou geen graantekort het nie, kortgekoop en selfs in die moeilikheid kan beland, waarsku mnr. Bully Botma, voorsitter van Graan SA. Daarby twyfel hy of die infrastruktuur bestaan om noodvoedsel by die hongeres uit te bring.
Hy het pas 'n vergadering van die Internasionale Graanraad bygewoon waarop voedselhulporganisasies voorleggings gedoen het oor die toestand in Afrika.
Volgens hulle het Zimbabwe nie net 350 000 ton tot 400 000 ton mielies nodig soos wat dié land vra nie, maar minstens 1,88 miljoen ton. Boonop bestaan groot behoeftes in Botswana, Zambië en Mosambiek, en Lesotho is reeds as 'n hongersnood geteisterde land verklaar.
Sy grootste kommer is, al sou daar genoeg graan geskenk word, hoe dit by die mense gaan uitkom. Durban sal die gewildste hawe van lewering wees omdat Beira beperkings het. Maar, skepe gaan vol graan in dié hawe lê en op die platteland sal mense nog altyd van die honger omkom.
Die nuwe afsetting van kommersiële boere van hul plase in Zimbabwe gaan duisende selfonderhoudende plaaswerkers ook sonder heenkome laat. Die Zimbabwiese plaaswerkersunie bereken dat daar voor die jongste krisis al sowat 250 000 werklose plaasarbeiders in 'n kamp buite Harare saamgetrek was.
Baie van die werkers moes vlug met net die klere aan hul lyf en het nou geen heenkome nie. Die ironie is dat die besetters net grond wil hê en die oorgrote meerderheid nie wil boer en kos produseer nie.
Die groot behoefte aan mielies kan ook veroorsaak dat Suid-Afrika se voorraad uitgeput kan raak. Die amptelike syfers wys geen knelpunt nie, maar omdat 'n mens nie weet wie die kopers van mielies op Safex is nie, kan dit verander en kan die land kortgekoop word, het hy gesê.
12 Julie 2002
Alle regte voorbehou. © Landbou.com 2011. In Suid-Afrika gepubliseer deur Media24