Daar ís finansiering beskikbaar vir ondernemings wat “groen” tegnologie wil ontwikkel om skadelike uitlaatgasse in die wêreld te help verminder.
Mnr. Takalani Rambau, ’n adjunkdirekteur by die Departement van Energie wat vir die beoordeling van groen tegnologieprojekte verantwoordelik is, sê benewens instellings soos die Nywerheidsontwikkelingskorporasie en die Ontwikkelingsbank van Suider-Afrika is Spanje ook bereid om groen projekte te finansier.
Hy sê daar is tans 270 sulke projekte in Suid-Afrika in die pyplyn waarvan 107 met hernubare energie te doen het. Slegs agt projekte, waarvan een deur Omnia Kunsmis bedryf word, het al sertifikate vir vrystellingsverminderings (CER’s) ontvang.
Vereistes
Die Aangewese Nasionale Owerheid is die gesagsliggaam by die departement wat projekte in ontwikkelende lande moet beoordeel volgens die vereistes van die Verenigde Nasies se Skoonontwikkelingsmeganisme (CDM).
Projekte wat daarvoor in aanmerking kom, kry CER-sertifikate wat beteken hulle verdien koolstofkrediete wat op internasionale koolstofmarkte verkoop kan word.
Internasionaal is daar al 3 799 CDM-projekte en 2,1 miljard CER-sertifikate is al uitgereik.
Asië het die voortou geneem met 82% van die projekte, gevolg deur Latyns-Amerika met 20%. Afrika dra nog net 2% by.
26 Januarie 2012
Kommentaar
Die rede hoekom SA nie die mas opkom met groen energie nie is dat die koek eenvoudig te klein is vir al die projekontwikkelaars met IT en regs agtergronde. Ek staan verbluf... Biogas is my wereld en daar is bitter min lewensvatbare projekte in SA en as ek kyk na die befondsing toestaan van lenings is daar talle wit olifante. Daar is weinig erfaring in SA spesifiek in biogas, maar daar hardloop al talle spesialiste rond wat gelukkig was om 'n aanleg in Duitsland te gaan besoek- nou is hulle spesialiste... Suid-Afrika behoort die voortou te neem met hernubare energie in Afrika, maar soos dinge nou aangaan weet ek nie.
Lewer kommentaar. (Jy hoef nie ingeteken te wees nie.)