|
|
|
| Bygewerk: | 26 May 14:00 IDT |
| Temp: | |
| Druk: | |
| Doupunt: | |
| Humiditeit: | 68% |
| Wind: |
Die Groenskrif oor landelike ontwikkeling en grondhervorming gaan moontlik vandeesmaand in die Parlement ter tafel gelê word, sê Agri SA.
Luidens ‘n verklaring het die organisasie met mnr. Gugile Nkwinti, Minister van Landelike Ontwikkeling en Grondhervorming, en senior amptenare van dié departement vergader.
‘n Voorlegging oor die konsepbeleid van die Groenskrif is toe met Agri SA bespreek, maar die dokument self is nie aan die organisasie gegee nie. Van die voorstelle in die Groenskrif handel oor beperkings op private grondbesit (grondplafonne), 'n reg van eerste weiering ten gunste van die staat wanneer grond te koop aangebied word, vennootskappe op staatsgrond, die regulering van grondbesit deur buitelanders en 'n nuwe wetsontwerp op grondbesit.
Werkgroepe op die been gebring
Die organisasie het intussen werkgroepe op die been gebring wat in diepte oor die bogenoemde kwessies asook waardasies, vergoeding, staatsgrond, institusionele reëlings, landelike ontwikkeling en die wetsontwerp op grondbesit moet besin.
Volgens mnr. Neels Ferreira, voorsitter van Agri SA se bedryfskamer, sal kundigheid van buite en regsmenings ook by die werkgroepe betrek word.
“Agri SA verskil nie met die Regering oor die noodsaak vir grondhervorming nie, maar het wel kommer oor bepaalde elemente van die Groenskrif wat ongunstig ervaar sal word. Daarom gaan ons op 'n konstruktiewe wyse aan die konsultasieproses deelneem en voorstelle doen oor moontlike alternatiewe benaderings waar die organisasie verskil met uitgangspunte van die Groenskrif.”
Beplande aksies
Agri SA het reeds inligting- en konsultasievergaderings oor die Groenskrif gehou, en sy transformasiekomitee en algemene raad vergader op 19 en 20 Julie om terugvoer vanaf die werkgroepe te kry en die dokument in sy geheel te bespreek.
“Agri SA en sy verwante lede gaan met erns aan die konsultasieproses oor ‘n veranderde grondbeleid deelneem, wat volgens alle aanduidings ‘n veel groter rol vir die staat in die grondmark wil vestig met die doel om wesenlike veranderings in die grondbesitpatroon teweeg te bring. Die beleidsvoorstelle gaan die huidige batestruktuur van die kommersiële landbou ten nouste raak."
Daarom is die uitkoms van die beleidshersieningsproses vir elke boer, deelnemer aan die landbou maar ook vir verbruikers wat staatmaak op die bedryf se vermoë om voedselsekerheid te verseker, van wesenlike belang,” meen Ferreira.
2 Julie 2010
Alle regte voorbehou. © Landbou.com 2011. In Suid-Afrika gepubliseer deur Media24
Kommentaar
Die staat moet eers hulle sokkerskuld betaal voordat hulle geld gaan hê vir grond.
toets
Lewer kommentaar. (Jy hoef nie ingeteken te wees nie.)