Groenskrif nog nie voltooi

 

Die Departement vir Landelike Ontwikkeling en Grondhervorming se span wat belas is met die Groenskrif werk nog aan die fyner besonderhede, het Landbouweekblad vasgestel.

Die Groenskrif, waaruit ‘n aanduiding gekry sal word van wat waarskynlik in die nuwe Wetsontwerp op Onteiening vervat is, is nie volgens die skedule Maandag (19 Julie) by die Parlement ingedien nie.

Die departement het vroeër aangedui dat dit gereed vir voorlegging in die Parlement sou wees ná die reses.

Beperking op besit van private grond?
Die Groenskrif sal die debat begin of staatsgrond slegs onder huurbesit moet wees, daar ’n beperking op die besit van private grond moet wees en dat buitelandse eienaarskap van grond verbind moet wees aan produktiwiteit en vennootskappe met Suid-Afrikaners.

Mnr. Gugile Nkwinti, Minister vir Landelike Ontwikkeling en Grondhervorming, het dit al duidelik gemaak dat die Groenskrif voorkeur-aandag geniet.

Mnr. Eddie Mohoebi, woordvoerder van die departement, het gesê dat wanneer die departement se span die fyner besonderhede voltooi het, sal die Groenskrif eers aan die ministeriële ekonomiese groep gaan, waaronder die departement val. Hierna sal dit deur die Kabinet goedgekeur moet word voordat die parlementêre proses, wat openbare verhore insluit, kan begin.

Hoewel die departement nie ‘n duidelike aanduiding kan gee van wanneer dit na die Parlement gebring gaan word nie, sê hy dat dit nog vanjaar gaan plaasvind.

Lees ‘n opsomming oor die verloop van die Groenskrif hier.

22 Julie 2010

0
 
 

Kommentaar

Lewer kommentaar. (Jy hoef nie ingeteken te wees nie.)

Jou e-pos adres sal nie vertoon word nie.