Grond: Groenskrif steeds nie gereed

 

Die Departement van Landelike Ontwikkeling en Grondhervorming het sy spertyd vir sy Groenskrif oor hervorming vir ‘n tweede keer gemis, luidens ‘n berig op Business Day.

As ‘n gevolg is die bekendmaking van die departement se dokument oor die beplande veranderinge tot grondhervormingsbeleid Maandag (19 Julie) uitgestel.

“Ons eie sperdatum vir die vrystelling van die dokument in April het verander omdat die departement steeds besig is met die Groenskrif,” sê mnr. Eddie Mohoebi, woordvoerder.

Luidens ‘n berig op Fin24 bevat die dokument ‘n driedelige plan om die huidige grondhervormingsprogram te red. Eerstens sal ‘n beperking geplaas word op die hoeveelheid grond wat individue en maatskappye mag besit, wat sal afhang van die ligging van die betrokke grond en wat waarvoor dit gebruik word.

Tweedens sal alle grond in staatsbesit uitgehuur word en derdens sal buitelanders slegs grond in Suid-Afrika mag besit indien hulle ‘n plaaslike burger as vennoot het.

Burokratiese strukture
Luidens Business Day sal drie verdere burokratiese liggame daargestel word, buiten die Grondeisekommissie. ‘n Nasionale grondkommissie sal op die been gebring word om ‘n databasis te skep oor grondeienaarskap in Suid-Afrika, en ‘n raad vir belanghebbendes en ‘n landelike ontwikkelingsraad sal ook geskep word.

Voordat die Groenskrif openbaar gemaak word, moet dit eers na ‘n ministeriële groep gestuur word, en daarna na die Kabinet en Parlement. Volgens mnr. John Purchase, hoof uitvoerende beampte van die Landboubesigheidskamer, is die huidige sloerdery teleurstellend. “Die volgehoue toestand van onsekerheid oor die Regering se bedoelinge en grondhervorming is ongunstig vir besigheid,” sê hy.

'n Kort geskiedenis van die Groenskrif:

Onteiening weer na Parlement? (9 Oktober 2009)

Radikale veranderinge oor grond? (1 April 2010)

Grondhervorming: Betrek boere, vra LUR (27 Mei 2010)

Eiendomsreg nie ondermyn - Zuma (29 Mei 2010)

Kommer oor grondbeleid en Groenskrif (9 Junie 2010)
 
Groenskrif dalk in Julie voorgelê (2 Julie 2010)

Bron:
Business Day
Fin24.com

20 Julie 2010

5
 
 

Kommentaar

Lewer kommentaar. (Jy hoef nie ingeteken te wees nie.)

Jou e-pos adres sal nie vertoon word nie.