Wetgewing wat Suid-Afrika se grondbeleid bepaal, kan uiteindelik heel anders daar uitsien as wat die groenskrif voorstel.
“Wat vir die Department van Landelike Ontwikkeling en Grondhervorming belangrik is, is dat die klem verskuif van hektare na landbouproduksie. Indien dit in die kommentaar op die groenskrif blyk dat alternatiewe volhoubaarder is, kan die voorgestelde viervlak-grondbesitstelsel verander,” sê mnr. Eddie Mohoebi, hoof van kommunikasie by die departement.
Die departement het in die laaste paar maande heelwat grond gekoop.
Grond wat “boerbaar” is en werkgeleenthede kan skep, is veral in sy visier. “Dit moet die beste – nie net enige – grond wees nie,” sê hy.
Die departement hoop om grondhervorming met herkapitalisering en strategiese vennootskappe reg te ruk. “Ná die verstryking van 'n kontrak van vyf jaar moet begunstigdes self kan boer.”
Wanbestuur en korrupsie
Restitusiegrond sal ook onder die vergrootglas kom, sê hy.
Instellings, soos gemeenskapseiendomsverenigings (GEV’s) en grondbestuurkomitees (GBK’s), kan verander of verdwyn.
Wanbestuur en korrupsie kom wyd in dié instellings voor en talle voorvalle is ondersoek. Die finale besluit oor die voorstelle berus by die Kabinet.
Die Instituut vir Rasseverhoudinge het in ’n verklaring gesê dubbel die hoeveelheid grond kon in die restitusieproses oorgedra gewees het as sommige begunstigdes nie geld bo grond verkies het nie.
Die Regering het R12,1 miljard bestee om grond oor te dra en R5,7 miljard is aan begunstigdes betaal. In die Vrystaat kon finansiële vergoeding twaalf keer meer hektaar gekoop het as wat vir restitusie oorgedra is, sê mnr. Kerwin Lebone, navorser by die instituut.
26 Januarie 2012
Kommentaar
Persoonlik dink ek dat ons het 'n grondwetlike reg om daarop aan te dring dat daar stabiliteit in ons lewens kom.
Nerens anders in die wereld is daar soveel onsekerheid oor grondeienaarskap nie - behalwe in die lande bet diktatorskappe....
Tot die kommuniste weet waar hulle in die verband staan.
Die enigste rede hoekom ons met die onsekerhede sit is omdat die regering 'n politieke speelbal van die situasie maak en omdat hulle departemente totaal en al onbevoeg is.
Maar nog is hulle nie te blameer nie. ONS is want ons laat hulle daarmee wegkom.
Ons moet beheer van die grondsituasie neem.
Net gister lees ek van hoeveel begunstigdes eerder geld gevat het as grond.
Die "geld" moet mos omgesit word in "grond".
Dan sal die prentjie mos heel anders lyk.
Maar die regering verkies om dit te ignoreer as hulle statistieke uitruik oor hoeveel grond nou al aan swartmense oorgedra is.
En ons laat hulle daarmee wegkom.
Dit is asof ons soebat om verneerder te word sodat ons soos klein kinders kan opstaan en skree daaroor.
Lewer kommentaar. (Jy hoef nie ingeteken te wees nie.)