|
|
|
| Bygewerk: | 26 May 14:00 IDT |
| Temp: | |
| Druk: | |
| Doupunt: | |
| Humiditeit: | 68% |
| Wind: |
Die Transvaalse Landbou-unie (TLU) sê 'n gebrek aan deursigtigheid oor die bestaan van grondeise en die owerheid se onvermoë om die kaf van die korrels te skei, het in sommige gebiede 'n onhoudbare situasie geskep.
Mnr. Machiel Beukes, voorsitter van die komitee vir eiendomsreg in Mpumalanga, sê die TLU dring sedert die aanvang van eise aan dat die owerheid 'n proses daarstel wat grondeienaars toegang gee om te bepaal watter restitusie-eise meriete het. "Dieselfde behoort vir huurwerkereise te geld. Só 'n proses vereis 'n oop en deursigtige benadering van die staat.
"Solank as wat 'n situasie bestaan waarin ander mense regte op private eiendom uitoefen en emosies oor grondaansprake opgewek word, sal Suid-Afrika nie aan 'n Zimbabwe-sindroom ontkom nie."
Hy sê Zimbabwe het geleer dat emosionele grondaansprake in die hande van verkeerde mense katastrofies kan wees. "Ons glo die owerheid is bewus van die verwagtings wat reeds geskep is."
Mnr. Beukes sê as Suid-Afrika in die toekoms self in sy voedselbehoeftes wil voorsien, sal die grondkwessie spoedig op 'n ander manier bestuur moet word. Daar is duisende onafgehandelde restitusie-eise en dit is onbekend hoeveel huurwerkereise teen grond daar is.
Hy sê grondpryse bly onder druk, grondtransaksies en finansiering ly skipbeuk, boere doen nie meer kapitaalbeleggings nie, arbeidsprobleme ontstaan, grondeienaars word gedreig en boere word onregmatig in hegtenis geneem op klagtes wat later laat vaar word.
"Dit is om dié redes en om 'n oplosssing te probeer vind, dat die TLU op 18 en 19 Junie op verklarende bevele teen die Minister van Landbou en Grondsake in die Grondeisehof verskyn."
26 Julie 2002
Alle regte voorbehou. © Landbou.com 2011. In Suid-Afrika gepubliseer deur Media24