|
|
|
| Bygewerk: | 26 May 14:00 IDT |
| Temp: | |
| Druk: | |
| Doupunt: | |
| Humiditeit: | 68% |
| Wind: |
Die Namibiese regering het die Statebond en die kommersiële boere van die land verseker 'n grondgrypery soos in Zimbabwe sal nie geduld word nie. Die herverdeling van landbougrond sal ordelik en binne die raamwerk van die grondwet en ander landswette plaasvind.
Dié versekering kom ná uitlatings op Swapo se onlangse kongres en die vertolking daarvan groot kommer laat ontstaan het dat die grondkwessie ook dié land se ekonomie kan skaad en beleggingsvertroue kan ruïneer.
In samesprekinge met 'n afvaardiging van die Statebond het die Namibiese eerste minister, mnr. Theo-Ben Gurirab, die versekering gegee dat 'n chaos soos dié in Zimbabwe nie op sy land se grondhervormingspad lê nie.
Mnr. Jan de Wet, voorsitter van die Namibiese Landbou-unie, sê hy het die versekering van die minister van grondsake, mnr. Hifikepunye Pohamba, gekry dat die regering nie 'n situasie soos dié in Zimbabwe wil hê wat die ekonomie ineen kan laat stort nie. Die regering is daarop ingestel om Namibië bestendig en 'n beleggers-, donateurs- en toerismevriendelike land te hou.
In die volle besef van die belangrike rol wat grond in Afrika speel en die invloed daarvan op bestendige regering, sal die kabinet hom in sy besluitneming laat lei deur die demokratiese beginsel van 'n vrywillige verkoper en koper.
So lank landbougrond te koop aangebied word, sal onteiening nie oorweeg word nie. As meer grond nodig is, sal daar gekyk word na dié plase wat in buitelanders se besit is.
Dié buitelanders wat beleggings in hul grond gemaak het, dit produktief bedryf en 'n inkomste genereer waarop belasting betaal word en wat 'n bydrae tot die land se ekonomie lewer, se grond is nie in gedrang nie.
Net die grond wat uitsluitlik vir plesier en ontspanning gebruik word, sal ingevolge die bepalings van die Grondwet en die Wet op Kommersiële Landbougrond teen 'n regverdige vergoeding onteien word - as dit nodig is.
Mnr. De Wet sê in die hele proses is die goeie gesindheid en samewerking wat tussen die regering en die unie bestaan, herbevestig.
Alle regte voorbehou. © Landbou.com 2011. In Suid-Afrika gepubliseer deur Media24