|
|
|
| Bygewerk: | 26 May 14:00 IDT |
| Temp: | |
| Druk: | |
| Doupunt: | |
| Humiditeit: | 68% |
| Wind: |
Frustrasie in die landbou is aan die opbou oor die ontwrigting wat die sloering met die afhandeling van grondeise en die stadige vordering met grondhervorming in die algemeen meebring.
‘n Gebrek aan konsultasie en kommunikasie deur die relevante regeringsinstellings oor hoe knelpunte opgelos kan word, dra by tot hierdie frustrasie, sê Agri SA.
Agri SA se transformasiekomitee, met verteenwoordigers uit al nege provinsies en verskeie bedryfsvertakkinge, het vandag (Woensdag) in Pretoria die knelpunte met grondhervorming bespreek en besluit oor stappe wat in belang van alle geaffekteerdes gedoen moet word om van die dooiepunte by te lê.
In ‘n nuusverklaring sê Agri SA “Ernstige kommer is gelug dat die staat veel meer ondernemings aangegaan het om grond te koop as waarvoor daar geld beskikbaar is. Aanduidings is dat die staat se kapasiteit om grond te koop vir die volgende drie jaar onder druk sal wees. Agri SA wil verkopers derhalwe adviseer om sekerheid oor waarborge en datum van betaling te vereis alvorens hulle met die staat kontrakteer. Verder moet omstandighede geskep word wat sal verseker dat produksie nie verder vanweë oorgang-onsekerhede benadeel word nie.
Toegang tot waardasies
“Grondeienaars ondervind ook probleme om toegang te kry tot waardasies wat deur die staat gedoen word en wat as vertrekpunt vir koopaanbiedinge en onderhandelings oor kooppryse dien. In belang van deursigtigheid en billikheid dring Agri SA daarop aan dat sodanige inligting deur die Kommissie op die Herstel van Grondregte aan geaffekteerde grondeienaars beskikbaar gestel word.
Die debat oor die koste van grondverkryging deur die staat en alternatiewe wat vir die “vrywillige koper, vrywillige verkoper” benadering oorweeg word, verloop ook nie na wense nie. Die Minister van Landelike Ontwikkeling en Grondsake, mnr. Gugile Nkwinti, het by verskeie geleenthede gesê dat hy die kwessie met Agri SA wil bespreek, maar dit realiseer nie. Dit is dringend nodig om die dialoog oor hierdie uiters belangrike en sensitiewe aangeleentheid te verbreed wat kan bydra tot rustigheid en ‘n regverdige en ewewigtige oplossing.
Agri SA sê hy het het kennis geneem van Nkwinti se mededelings gister (Dinsdag) tydens ‘n mediakonferensie in die Parlement oor die regering se “beheptheid” met grondhervorming en dat daar uiteindelik meer as 30% gekoop en oorgedra sal moet word om die wanbalans in grondbesit reg te stel om sodoende ‘n polarisasie soos in Zimbabwe se geval, te verhoed. Terwyl die regering tans grootliks faal om sy 30% grondoordrag- en boerontwikkelingdoelwitte te bereik, ag Agri SA dit jammer dat daar deur opmerkings van hierdie aard nou reeds verdere verwagtinge geskep word waarop die huidige bedeling nie kan aflewer nie.
Terwyl Agri SA saamstem dat die grondoordragproses gestroomlyn moet word om onmiddellike behoeftes en frustrasie - ook by grondeisergemeenskappe - by te lê, is die groter behoefte om nuwe toetreders by te staan om hul suksesvol in die landbou te vestig. Agri SA gaan met sy dienslewering en kapasiteitsbou hierop fokus.
Agri SA wil hierdie en verbandhoudende aangeleenthede so spoedig moontlik op die hoogste regeringsvlak bespreek.
11 November 2009
Alle regte voorbehou. © Landbou.com 2011. In Suid-Afrika gepubliseer deur Media24
Kommentaar
Lewer kommentaar. (Jy hoef nie ingeteken te wees nie.)