|
|
|
| Bygewerk: | 26 May 14:00 IDT |
| Temp: | |
| Druk: | |
| Doupunt: | |
| Humiditeit: | 68% |
| Wind: |
AgriSA verwag dat drie kwessies rondom grondhervorming vanjaar baie aandag gaan geniet. Me. Annelize Crosby, parlementêre verteenwoordiger van AgriSA, sê dit is moeilik om te voorspel watter sake spesifiek navore sal kom, maar sy dink veral drie kwessies gaan baie belangrik wees.
Onteieningswetsontwerp
Volgens Crosby is daar ‘n baie goeie kans dat ‘n onteieningswetsontwerp weer vanjaar ter tafel gelê gaan word. Sy sê hoewel Agri SA hoop dat ‘n nuwe voorstel nie so omstrede soos die vorige voorstel sal wees nie, verwag hulle enigiets en is hulle bereid om ongrondwetlike voorstelle te beveg.
“Ek dink wel die boodskap dat so ‘n wetsontwerp aan die Grondwet moet voldoen, het by die vorige wetsontwerppoging duidelik geword”. Die Departemente van Landelike Ontwikkeling en Grondhervorming, en Openbare Werke is glo reeds besig om weer só ‘n wetsontwerp saam te stel.
Geld vir grondhervorming
Crosby sê hulle vertrou dat die Departement van Landelike Ontwikkeling en Grondhervorming vanjaar geld sal bekom om grondrestitusie te bespoedig. “Daar beter geld loskom, anders is daar ‘n groot krisis!” Dit volg ná die departement verlede jaar bekend gemaak het dat geld vir die aankoop van grond tydelik uitgeput is en hulle tot vanjaar vir nog geld moet wag.
Volgens Crosby is mense se vertroue in die grondhervormingsproses reeds geskaad en kan dié sloerdery in die toekoms daartoe lei dat grondeienaars nie hulle grond hiervoor gaan aanbied nie. Weerstand kan ontwikkel in die gemeenskappe wat deur die departement bygestaan moet word, maar nie die geld ontvang nie, sê sy.
Plaaswerkerberaad
Die derde saak wat volgens Crosby baie aandag kan geniet, is die plaaswerkerberaad in Mei vanjaar. Sy meen veral verblyfreg-kwessies sal in diepte by die beraad bespreek word. Argumente dat plaaswerkers ook op grond aanspraak kan maak, kan moontlik na vore kom. “Sommige plaaswerkers wil nie net huise hê nie, maar ook ‘n stukkie grond om op te boer”.
19 Januarie 2010
Alle regte voorbehou. © Landbou.com 2011. In Suid-Afrika gepubliseer deur Media24
Kommentaar
My plaas is deel van n eis. Die saak sloer al meer as vier jaar en steeds weet ek en my bure nie waar ons staan nie. Een van ons bure het egter geweldige voortgesette druk op die Departement geplaas en sy grond is deur hulle aangekoop. Die eis verwys na n Stam wat die plase wil opeis, maar die Stam Kaptein se familie lede het egter nou op die plaas ingetrek en boer met beeste. Is dit n regverdige eis ???? Ook wil ek net onder die publiek se aandig bring dat ons eienaars met geen respek en minagting deur die Departement se Verteenwoordigers behandel is. Daar is ook drygemente gemaak dat ons teen die Staat veg en geen kans het op sukses nie.
Groete
Jaco
Lewer kommentaar. (Jy hoef nie ingeteken te wees nie.)