Groot skuld aan waterrade

 

Suid-Afrikaanse munisipaliteite skuld glo R1,1 miljard aan die 14 waterrade in die land. Mnr. Gareth Morgan, ‘n DA-LP, sê dit het bekend geword ná een van hulle vrae in die Parlement geantwoord is.

Hy sê dit is geen wonder dat die land se waterinfrastruktuur agteruitgaan nie. “Waterrade is verantwoordelik vir watervoorrade en infrastruktuur in hulle omgewings, en hulle moet ook verseker dat skoon water aan gemeenskappe gelewer word. Hulle is egter grootliks afhanklik van hul inkomste vanaf munisipaliteite”.

Volgens Morgan beloop skuld aan waterrade tot en met die 31ste Julie 2009. Sowat R630 miljoen daarvan is skuld vir die mees onlangse finansiële jaar, terwyl meer as R525 miljoen opgehoopte skuld is. Hy sê Botshelo Water en die Namakwa-Waterraad het die grootste verliese in die 2007/’08 finanisiële jaar aangeteken.

Morgan is van mening dat die me. Buyelwa Sonjica, die Minister van Waterwese en Omgewingsake, vanjaar dringend aandag hieraan moet gee, veral omdat die sogenaamde waterkrisis in die land die tweede grootste is ná die kragkrisis.

Dieselfde klagtes as Agri SA
Intussen sê Morgan die hoof-uitvoerende beamptes van die waterrade sê hulle ondervind baie probleme om met die Department van Waterwese te kommunikeer. Agri SA het die afgelope paar jaar ook gekla dat gebrekkige kommunikasie ten opsigte van waterregte hulle baie frustreer, veral omdat dit die vooruitgang van die landbou strem.

“Die minister moet ‘n punt daarvan maak om na waterrade se bekommernisse te luister in 2010. As die waterprobleme van Suid-Afrika in ag geneem word, moet die funksionering van waterrade vanjaar dringend aangespreek word”, verduidelik Morgan.

6 Januarie 2010
 

0
 
 

Kommentaar

Lewer kommentaar. (Jy hoef nie ingeteken te wees nie.)

Jou e-pos adres sal nie vertoon word nie.