|
|
|
| Bygewerk: | 26 May 14:00 IDT |
| Temp: | |
| Druk: | |
| Doupunt: | |
| Humiditeit: | 68% |
| Wind: |
Die idee dat 'n groter skaap 'n beter skaap is, is 'n wanindruk onder talle skaapboere. Die antwoord lê veel eerder daarin om te selekteer vir die spesifieke eienskappe wat 'n boer in sy skape verlang, het dr. Buks Olivier, spesialis in skaap- en bokteling by die Landbounavorsingsraad (LNR) se Instituut vir Diereverbetering op Stellenbosch, op die jaarvergadering van die Wes-Kaapse NVWK gesê.
Olivier het gesê die fynwolprojek by die Grootfontein Landbou-ontwikkelingsinstituut is al talle jare aan die gang en grootliks afgehandel. Daar word nou in 'n nuwe rigting van navorsing beweeg, naamlik om intensief na die inkomste per hektaar van skape te kyk.
"Dit is moeilik om boere te oortuig dat 'n groot skaap nie noodwendig beter presteer as 'n kleiner skaap nie. Daar is talle nadele aan 'n té groot skaap, onder meer dat hulle meer vreet. 'n Kleiner skaap presteer dikwels beter weens sekere omgewingsfaktore in 'n bepaalde area as 'n groot dier."
Olivier meen 'n boer moet regstreeks selekteer en teel vir sekere eienskappe wat hy van sy diere verlang. Dit is nie nodig om "met 'n draai" te probeer teel vir eienskappe nie. "Teel regstreeks vir fynwol as jy dit verlang, of vir sterkwol of stapellengte."
'n Beskrywingspunt is aanvaar waarin mnr. Llewellyn Louw van Malmesbury gevra het vir onafhanklike riglyne waarvolgens boere wol kan kweek sodat dit aan internasionale standaarde voldoen.
Dr. Arno Moore, hoofbestuurder van die NWKV, het gesê die markte moet sulke riglyne dikteer. Dit help nie boere probeer sulke riglyne daarstel as dit nie gepaard gaan met spesifieke internasionale bemarkingsriglyne nie. Dan sou dit 'n sinnelose oefening wees.
Mnr. Izak van der Merwe, voorsitter van die Nasionale NWKV, het gesê Australië, as grootste wolprodusent ter wêreld, bring gereeld nuwe idees na vore waarmee tred gehou moet word. As iets nuuts egter geïmplementeer word, moet altyd gewaak word dat dit in balans met die koste daarvan moet wees.
Louw het gemeen wolboere wil basiese riglyne van die NWKV hê. "Heelwat wolboere weet eenvoudig nie van basiese beginsels nie." Moore het gesê sulke riglyne sal nasionaal en markgerig moet wees.
23 April 2004Alle regte voorbehou. © Landbou.com 2011. In Suid-Afrika gepubliseer deur Media24