Gwanya los DG-pos einde Julie

 

Ná vele bespiegeling oor die toekoms van mnr. Tozi Gwanya, direkteur-generaal van die Departement van Landelike Ontwikkeling en Grondhervorming, het mnr. Gugile Nkwinti, die betrokke minister, bekend gemaak dat Gwanya vanaf 1 Augustus nie meer in diens van die departement sal wees nie.

Luidens ‘n verklaring sê Nkwinti hy en Gwanya het saam besluit om Gwanya se kontrak te “herstruktureer”, derhalwe sal 31 Julie Gwanya se laaste dag by die departement wees. Die herstrukturering het na bewering op Gwanya se versoek plaasgevind.

Volgens die verklaring bedank Nkwinti Gwanya vir sy toegewydheid aan die departement. Gwanya sal glo ‘n loopbaan in opvoeding, opleiding en menslike ontwikkeling volg.

Bewerings van afdanking en bedanking
Bewerings dat Gwanya afgedank is of bedank het, doen sedert die begin van die maand die rondte, en Gwanya het vroeër vandeesweek in ‘n verklaring teen dié bewerings uitgevaar.

Hy het die verklaring uitgereik nadat me. Anette Steyn, die Demokratiese Alliansie se woordvoerder vir grondsake, bekend gemaak het dat bewerings dat hy bedank het “blyk waar te wees”, hoewel niemand binne die departement dit aan haar wou bevestig nie. Gwanya het die bewerings as “kwaadwillig” beskryf en sy woordvoerder het vandeesweek aan die media gesê dat hy nié bedank het nie en wel op kantoor is. 

Volgens die vorige beweringe sou Gwanya bedank het voor ‘n vergadering met die ouditeur-generaal. Steyn het verlede week aan landbou.com gesê: “Ek het ‘n ondersoek na die departement by die ouditeur-generaal aangevra. Dié vergadering was na bewering vir Dinsdag gereël, maar Gwanya het nie opgedaag nie. Hy het glo net ‘n brief na die vergadering gestuur waarin hy sê hy bedank.”

23 Julie 2010

5
 
 

Kommentaar

Lewer kommentaar. (Jy hoef nie ingeteken te wees nie.)

Jou e-pos adres sal nie vertoon word nie.