|
|
|
| Bygewerk: | 26 May 14:00 IDT |
| Temp: | |
| Druk: | |
| Doupunt: | |
| Humiditeit: | 68% |
| Wind: |
Die Minister van Landbou en Grondsake, me. Thoko Didiza, het 'n statutêre heffing van 1,14 sent per liter melk goedgekeur wat deur melkverwerkers betaal sal word.
Mnr. Robert Wesseloo, voorsitter van Melk Suid-Afrika, sê die bedryf het die heffing verlede jaar aangevra en dit is sedert 19 Desember 2003 van toepassing.
Wesseloo het gesê die inkomste uit die heffing sal gebruik word vir die finansiering van vyf strategieë, naamlik die monitering van die gehalte van melkprodukte, verbruikersopvoeding in die gebruik daarvan, die insameling van bedryfsinligting, navorsing en ontwikkeling en bemagtigingsprojekte ten behoewe van voorheen benadeeldes .
Hy het gesê dit is die eerste keer in tien jaar dat daar enige sprake van statutêre heffings in die melkbedryf is. In dié tyd is geen generiese bemarking van melkprodukte gedoen nie. Verwerkingsondernemings het net hul eie handelsmerke bevorder.
"Dit het daartoe gelei dat die verbruik per kop van melk in Suid-Afrika tot die laagste nóg van enige lid van die Internasionale Suiwelfederasie gedaal het. Noudat ons 'n begroting op grond van die jaarlikse inkomste uit die statutêre heffing kan opstel, is ons eerste mikpunt om melk as die natuur se volmaakste kossoort te bemark. Ons beskou dit as die kern van ons strategie om die melkbedryf tot nuwe hoogtes te voer. Net as ons dinamiese markuitbreiding kan bewerkstellig, kan daar noemenswaardige groei in die bedryf wees," het Wesseloo gesê.
Hy het gesê die skema, wat deur die minister goedgekeur is, maak voorsiening vir die verpligte registrasie van melkverwerkers vir die insameling van bedryfsinligting. Hierdie inligting sal die bedryf in staat stel om doeltreffend te beplan. Dit is iets wat oor die afgelope tien jaar nie moontlik was nie, het Wesseloo gesê.
6 Februarie 2004Alle regte voorbehou. © Landbou.com 2011. In Suid-Afrika gepubliseer deur Media24