Sowat 20 plaaswerkers van 'n plaas naby Klerksdorp in Noordwes, is tans baie gefrustreerd met die Departement van Landelike Ontwikkeling en Grondhervorming weens die beleid rondom die aankoop van ‘n plaas as deel van die grondhervormingsproses.
Mnr. Donovan Webster, die boer wat tans die plaas besit, sê hy het die plaas onlangs op die mark geplaas vir private kopers. “My werkers het my toe genader en gevra hulle wil die plaas koop, en dat ek hulle asseblief moet help om met behulp van die grondhervormingsproses die plaas te koop.”
Volgens Webster het hy die plaaslike kantoor op Klerksdorp gekontak waar daar vir hom gesê is ‘n sakeplan moet opgestel word. Hy moes ook ‘n paar vorms invul.
Waar het dinge skeefgeloop?
Volgens Webster is die plaas onlangs vir sowat R10 miljoen gewaardeer. Hy sê daar is ook sowat R4 miljoen se vee en toerusting op die plaas. “Ek het aangebied om die 150 melkbeeste, vyf trekkers en ander implemente ter waarde van R2 miljoen aan die werkers te skenk mits die eis goedgekeur word.”
Hy sê as hy die skenking aan die werkers gee sal hulle in staat wees om elkeen ‘n bedrag van R100 000 tot die koopbedrag by te dra, waarvolgens die staat dan ‘n toelaag van R230 000 aan elkeen van die groep van 20 sal gee. Die totaal hiervan kom egter op net R4,6 miljoen te staan.
“Die uitstaande bedrag sê die departement moet die werkers self finansier. Ek het die Land Bank hieroor genader, en hulle het aan my gesê die lening sal nie goedgekeur word as hulle vind dat enige van die werkers nie kredietwaardig is nie. Hoe kan ‘n plaaswerker kredietwaardig wees?“
Webster sê hy het ook al aangebied om ‘n deel van die bedrag te finansier deur ‘n verband op die grond te verskaf. Die voorstel is glo egter nie aanvaarbaar nie.
Departement bied nog geen oplossings
Drie regeringsamptenare - insluitend me. Paula Mongae, hoofdirekteur van grondhervorming in Noordwes - het die afgelope week met Webster vergader nadat hy ‘n klagte by mnr. Gugile Nkwinti, Minister van Landelike Ontwikkeling en Grondhervorming, se kantoor ingedien het. Webster sê geen vordering is egter gemaak nie.
“Wat kan ek sê? Dit voel vir my die proses en beleid voorsien nie vir plaaswerkers wat graag grond wil koop nie. Wat is grondhervorming dan as dit nie arm mense kan help om hulle eie grond te koop nie? Dit help nie eens om die vorms in te vul nie. Hulle is nie bereid om na enige voorstel te luister nie. Al voorstel wat hulle gehad het was dat ek ‘n stuk van my grond afsny en vir die werkers skenk om op te boer. Ek dink regtig dit is die rede vir die vertragings met hervorming, terwyl die boere al die skuld kry. Ek dink eerder dis n foefie om stemme te werf,” vertel Webster.
Mongae het aangedui dat sy volgende week op landbou.com se navrae sal reageer.
Kommentaar
Lewer kommentaar. (Jy hoef nie ingeteken te wees nie.)