|
|
|
| Bygewerk: | 26 May 14:00 IDT |
| Temp: | |
| Druk: | |
| Doupunt: | |
| Humiditeit: | 68% |
| Wind: |
'n Verhoging in vrywillige heffings vir markontwikkeling en navorsing is op die kongres van Aartappels Suid-Afrika in Bloemfontein goedgekeur. Die statutêre heffing waarom aansoek gedoen is, is nog nie goedgekeur nie.
Aartappelboere, moerkwekers en die verwerkingsbedryf gaan voortaan 1c/10 kg vir navorsing opdok en 2c/10 kg vir markontwikkeling en produkbevordering. Daarsonder sou Aartappels SA weens 'n gebrek aan geld nie meer met sy bedrywighede kon voortgaan nie.
Mnr. Ernst Yzel, voorsitter van die ouditkomitee wat Aartappels SA se geldsake ondersoek het, het gesê in 2001 is besluit om heffings van die drie kernbesighede, naamlik tafelaartappels, moere en die verwerkingsbedryf, te hef.
Dit blyk nou dat net sowat 50 % van die moontlike vrywillige heffings gevorder word. Selfs al sou ál die heffings teen die huidige tarief gevorder word, sal dit nog nie genoeg wees nie. Al word die uitgawes tot 'n minimum beperk, word 'n tekort ten opsigte van bedryfsbediening voorsien.
Navorsing is ontoereikend en nie volhoubaar nie. Om daarmee voort te gaan, moet die vrywillige heffing verhoog word.
Die verhoging in vrywillige heffings beteken dat Aartapples SA voortaan 15,4c/10 kg van die tafelaartappel-produsente, 4,4c/10 kg van die moerkwekersbedryf en 6,8c/10 kg van die verwerkingsbedryf gaan ontvang.
Die kongres het besluit om voort te gaan met die aansoek om statutêre heffings. Tot daaroor uitsluitsel verkry is, sal die vrywillige heffings gevorder word. As die aansoek om statutêre heffings nie teen 31 Desember goedgekeur is nie, sal die nasionale raad besluit of met die aansoek voortgegaan word.
As die aansoek nie goedgekeur word nie, moet die nasionale raad 'n model van vrywillige heffings ondersoek wat 'n stabieler inkomstevloei sal verseker. Wysigings in heffings sal elke twee jaar op die kongres bespreek word.
3 Oktober 2003Alle regte voorbehou. © Landbou.com 2011. In Suid-Afrika gepubliseer deur Media24