|
|
|
| Bygewerk: | 26 May 14:00 IDT |
| Temp: | |
| Druk: | |
| Doupunt: | |
| Humiditeit: | 68% |
| Wind: |
Die skerp styging in wolpryse met die hervatting van die veilings verlede week, het die meeste waarnemers verras. Die verbetering is deurgaans verwelkom.
Mnr. Derek Pape van die Modiano-kopershuis sê hoewel die mark met die aanvang van die veiling 15 % hoër geopen het, het dit gedurende die loop van die dag met 'n verdere 8 % verbeter en sowat 24 % hoër gesluit. "Die verswakking van die rand teenoor die Australiese dollar, het ook tot dié verbetering bygedra."
Pape meen die ongunstige gevoel jeens Suid-Afrika, met die komende verkiesing tesame met pres. Thabo Mbeki se onlangse besoek aan Haïti en die gebeure in Zimbabwe, sal die rand op kort termyn verder afdruk. Dit kan meebring dat die huidige wolprysvlakke gehandhaaf kan word.
Mnr. Briers Bekker, voorsitter van Cape Wools, sê die die vraag na wol is besig om te verbeter en kopers is bereid om nou meer daarvoor te betaal. "Hoewel wisselkoerse die mark verder sal beïnvloed, is ek oortuig dat 'n goeie tweede helfte van die seisoen te wagte kan wees."
Die voorsitter van die Nasionale Wolkwekersvereniging, mnr. Izak van der Merwe, het die vertroue uitgespreek dat die verbetering volhoubaar sal wees. "Die feit dat die mark van die hoë vlakke twee jaar gelede tot met die aanloop na die Kersreses, skerp gedaal het, het ongelukkig 'n ongunstige sein na wolboere uitgestuur. Die jongste styging, kon nie op 'n beter tyd gekom het nie."
Van der Merwe sê daar is talle wolboere, veral in die Noord-Kaap, wat hulle in 'n benarde posisie bevind en vee ten duurste moet voer.
Mnr. Martin Schwellnus, hoofbestuurder van veselbemarking by BKB, meen wolverwerkers wil hul posisies verskans omdat daar aanduidings is dat die Japanse, Chinese en Europese ekonomieë verbeter. "Dit tel beslis in kommoditeite, soos wol, se guns."
Ook dr. Jan van der Westhuysen, hoofbestuurder van CMW, het die verbetering verwelkom. "Dit is 'n wonderlike inspuiting omdat geen besigheid die prysdaling wat veselprodusente die afgelope jaar ondervind het, kan bekostig nie."
Schwellnus sê hoewel die grootste deel van die skeersel in die eerste helfte van die seisoen bemark is, word top-skeersels nog verwag. "Die boere wat hul wol teruggehou het in afwagting van beter pryse, het alle rede om nou tevrede te voel."
23 Januarie 2004
Alle regte voorbehou. © Landbou.com 2011. In Suid-Afrika gepubliseer deur Media24