|
|
|
| Bygewerk: | 26 May 14:00 IDT |
| Temp: | |
| Druk: | |
| Doupunt: | |
| Humiditeit: | 68% |
| Wind: |
'n Volle regbank van die Appèlhof in Bloemfontein het eenparig beslis dat 'n beginsel wat deur die SA Inkomstediens gebruik word om te bepaal wie 'n bona fide-boer is en wie nie, nie as 'n onafhanklike toets gebruik kan word nie.
Ook ander faktore, waaronder die boer se bedoeling om uiteindelik 'n wins te maak en die soort boerdery wat beoefen word, behoort in aanmerking geneem te word, het die hof beslis.
Dié uitspraak volg in 'n saak wat bykans vier jaar gesloer het, toe die SA Inkomstediens beslis het dat dr. Johan Smith, 'n mediese praktisyn van Uitenhage wat ook 'n wildplaas bedryf het, nie meer as bona fide-boer beskou kon word nie.
Mnr. Hennie Huisamen, regsverteenwoordiger van dr. Smith, sê volgens die bepalings van art. 20 en 26 van die Inkomstebelastingwet is deeltydse boere geregtig om verliese op 'n plaas teenoor inkomste uit ander bronne af te skryf. Die SAID huldig egter die mening dat boere wat dié voordeel wil geniet, bewys moet kan lewer dat hulle 'n redelike vooruitsig het om in die betrokke belastingjaar 'n wins te kan maak.
Vorige regsuitsprake in dié verband het egter daarop gedui dat as 'n deeltydse boer nie binne 'n redelike tyd 'n wins maak nie, die Ontvanger van Inkomste die vergunning met terugwerkende krag van tot vyf jaar kan ophef. "Die probleem was dat só 'n oordeel, bloot op grond van die deeltydse boer se finansiële state gevel kon word, en daar nie werklik gekyk was na omstandighede waarom hy nie in staat was om 'n wins te maak nie," sê mnr. Huisamen.
Drie jaar gelede het die Belastinghof beslis dr. Smith het nie 'n redelike kans om 'n wins in sy boerdery te maak nie en dus ook nie meer verliese wat hy op die plaas gely het, teenoor sy inkomste uit ander bronne kon afskryf nie. Die SAID het hom dus nie meer as 'n bona fide-boer geag nie.
Regter Erasmus van die spesiale inkomstehof het in die daaropvolgende appèlsaak beslis dat 'n boer se onvermoë om 'n wins te maak, nie as 'n onafhanklike toets gebruik kon word om sy egte bedoeling tot wins te bepaal nie. Die Inkomstediens wat teen dié uitspraak geappelleer het, se saak is nou met koste in Bloemfontein van die hand gewys.
Mnr. Huisamen sê die hof het in sy jongste uitspraak gesteun op soortgelyke sake in Nieu-Seeland en Australië. "Daar is nou vir die eerste keer duidelikheid oor wat die interpretasie van die betrokke twee klousules in die Inkomstebelastingwet behoort te wees."
Dr. Smith het aan Landbouweekblad gesê dat hoewel hy baie verlig is met die uitspraak, die verhoor hom en sy familie die afgelope vier jaar finansieel en geestelik erg benadeel het.
11 Oktober
Alle regte voorbehou. © Landbou.com 2011. In Suid-Afrika gepubliseer deur Media24