|
|
|
| Bygewerk: | 26 May 14:00 IDT |
| Temp: | |
| Druk: | |
| Doupunt: | |
| Humiditeit: | 68% |
| Wind: |
‘n Sémillon van Flagstone Winery is uit meer as 2 000 inskrywings as die 2010 SA Kampioen Jongwyn aangewys.
Dit is die eerste keer sedert 1952 dat dié kultivar die gesogte Generaal Smuts-trofee, die hoogste eer vir ‘n jongwyn, verower het. Dié wyn is boonop as die SA Kampioen Sémillon aangewys.
Die 2010 SA Jongwyn-toekennings is by die Lord Charles-hotel in Somerset-Wes deur die Suid-Afrikaanse nasionale wynskou-vereniging (SANWSV) en Agri-Expo aangebied.
Badsberg Wynkelder in Rawsonville het vir die tweede agtereenvolgende jaar die Pietman Hugo-trofee vir die meeste punte met 5 beste inskrywings ingeoes. Mnr. Willie Burger, keldermeester, en sy gedugte span spog ook met ‘n SA kampioen pinotage en ‘n SA kampioen natuurlike soet witwyn.
Ander uitblinkers
Ander kelders uit die Worcester en Breedekloof omgewing wat vanjaar hul buiging as SA kampioene gemaak het, is Alvi’s Drift Privaatkelder met SA Kampioen chardonnay (gehout), Breëland met hul SA Kampioen wit versnit (sauvignon blanc/colombar) en Merwida met ‘n SA Kampioen muskadel (wit muskadel jerepiko).
Die jongwyne van drie Paarlse kelders het dié streek se ster by vanjaar se toekennings laat skitter. Landskroon Shiraz (gehout), Windmeul Cabernet Sauvignon (gehout) en Perdeberg Petit Verdot (gehout) is as SA Kampioene bekroon.
Carel Nel Wyne het hul veelsydigheid bewys met trofeë vir die SA Kampioen port (bestem vir tanige port) en SA Kampioen sauvignon blanc. Calitzdorp Wynkelder, ook in die Klein Karoo, het die trofee vir SA Kampioen dessertwyn met ‘n muskadel/hanepoot verower.
Namaqua Wyne van Vredendal was vanjaar hoog op die punteleer met trofeë vir die SA Kampioen Merlot (gehout) en SA Kampioen Ander wit kultivar (Verdelho).
Kleine Zalze en Neethlingshof het Stellenbosch in die kollig geplaas met die SA Kampioen Chenin Blanc (gehout) en SA Kampioen edellaatoeswyn (gehout) onderskeidelik.
Uit die Robertson omgewing het Viljoensdrift sy stem dik gemaak met ‘n SA Kampioen rooi versnit (pinotage/shiraz).
Altesaam 2 028 jongwyne uit die 2010 oesjaar is vanjaar ingeskryf, waarvan 17 as SA Kampioene en 52 as klaswenners presteer het.
Vir meer inligting besoek die SA Jongwyn webtuiste by www.youngwineshow.co.za.
19 Augustus 2010
Alle regte voorbehou. © Landbou.com 2011. In Suid-Afrika gepubliseer deur Media24
Kommentaar
Lewer kommentaar. (Jy hoef nie ingeteken te wees nie.)