|
|
|
| Bygewerk: | 26 May 14:00 IDT |
| Temp: | |
| Druk: | |
| Doupunt: | |
| Humiditeit: | 68% |
| Wind: |
Bemoedigende tekens raak sigbaar van komitees wat werk om die Mbeki-landbouplan op die lanseerbaan te kry, sê mnr. Bully Botma, voorsitter van Graan SA.
Versekering van produksiekoste is een van die belangrike aspekte wat nou al bespreek word. Die oogmerk rakende die mieliebedryf is om 'n plan te ontwikkel vir volhoubare mielieverbouing.
Om dieselfde rede as wat 'n kommersiële boer sonder versekering van produksiekoste ná 'n misoes ten gronde kan gaan, sal opkomende boere ook nie kan slaag nie.
"Die hele plan lê ons baie na aan die hart. Ons wil graag hê dit moet slaag en nie in die Regering se gesig ontplof nie," sê mnr. Botma.
Die versekering van produksiekoste moet 'n boer in staat stel om ná 'n algehele misoes, weer te kan plant. Dit sal finansierders ook meer gerus maak as hulle weet hulle sal hul geld terugkry.
Die saak is al wyd bespreek en die gevoel is dat die Regering nie vir die hele rekening kan instaan nie, maar hy sal 'n bydrae moet lewer om plaaslike versekeringsondernemings in staat te stel om herversekering te bekom. Herversekeraars is tans huiwerig om dit te doen, want die risiko's in Afrika word net te hoog.
Mnr. Botma het sy kommer uitgespreek oor al geluide wat oor regulering gemaak word. "As dit beteken dat inligting vir almal beskikbaar moet wees, voorkom moet word dat boere binne 'n bedryf met mekaar meeding op die uitvoermark en gehalte gereguleer word, is dit goed. As dit egter beteken dat met die vrye mark ingemeng word, is dit totaal onaanvaarbaar. Vir 'n ou mielieraadstelsel is daar geen plek nie," het hy gesê.
12 Julie 2002
Alle regte voorbehou. © Landbou.com 2011. In Suid-Afrika gepubliseer deur Media24