|
|
|
| Bygewerk: | 26 May 14:00 IDT |
| Temp: | |
| Druk: | |
| Doupunt: | |
| Humiditeit: | 68% |
| Wind: |
Mnr. Membathisi Mdladlana, Minister van Arbeid, het beklemtoon dat die ANC-regering verbind bly tot die Visie vir die Landbou wat die Regering, plaaswerkers en die georganiseerde landbou in 2001 onderteken het om gesonde arbeidsverhoudings te bevorder.
Hy het boere herinner aan dié visie na aanleiding van 'n voorval waarin waarskuwingskote na bewering afgevuur is tydens 'n besoek van arbeidsinspekteurs aan 'n plaas by Modderrivier in die Noord-Kaap.
Die polisie ondersoek 'n klag van poging tot moord teen die boer, mnr. John Edwards, ná die voorval. Volgens mnr. Johan van Rensburg, hoofbestuurder van Agri Noord-Kaap, het die inspekteurs geen protokol gevolg toe hulle die plaas besoek het nie. Daar was geen afspraak nie en hulle het met 'n ongemerkte voertuig met getinte vensters op die plaas aangekom.
"Daar was klaarblyklik agterdog by albei partye en waarskuwingskote is gevuur. Van die landbou-unie se kant kan ons die beweerde skietery nie goedpraat nie, maar dit is belangrik dat inspekteurs die bepaalde protokol vir besoeke aan plase moet volg," het hy gesê.
Mnr. Johannes Möller, voorsitter van Agri Noord-Kaap, het gesê dit is belangrik dat daar 'n vertrouensverhouding tussen die landbou en die departement moet bestaan. Volgens hom is dié verhouding reeds op 'n vroeëre geleentheid geskend ná beweerde haatspraak deur die uitvoerende direkteur van die departement van arbeid in die Noord-Kaap.
"Dit is 'n feit dat die landbou die afgelope tyd ten opsigte van blitsbesoeke aan plase deur die departement geteiken word. Dit is egter onaanvaarbaar dat die persoon wat leiding moet neem se houding jeens die landbou as ongunstig vertolk kan word en hy steeds in beheer is," sê Möller. Volgens hom probeer ál die landbouwerkgewers die bepalings van die bestaande arbeidswetgewing nakom.
9 April 2004Alle regte voorbehou. © Landbou.com 2011. In Suid-Afrika gepubliseer deur Media24