|
|
|
| Bygewerk: | 26 May 15:00 IDT |
| Temp: | |
| Druk: | |
| Doupunt: | |
| Humiditeit: | 72% |
| Wind: |
'n Merinoboer van die Suid-Vrystaat en 'n wetenskaplike van die Kleingraaninstituut (KGI) by Bethlehem is vanjaar onderskeidelik aangewys as die Sentrale Streek van die Landbouskrywersvereniging van Suid-Afrika se Boer en Landboukundige van die Jaar.
Mnr. Eddie Prinsloo van die Heuningkrans-stoetery, Smithfield, besit een van die oudste Merinostoeterye in die land. Hy het die stoetery in 1975 oorgeneem by sy pa, Hennie, bekende in wolkringe en gewese voorsitter van die Wolraad, wat self in in 1987 Boer van die Jaar was.
Hy het vyf jaar gelede met sy eie produksieveiling begin. Dit het sedertdien uitgebrei tot die grootste van 'n enkelteler. Die 22 jaar wat hy ononderbroke ramme op die Februarie-ramveiling in Bloemfontein verkoop, is die langste nog. Die afgelope vier jaar het hy die hoogste prys en hoogste gemiddelde prys vir veldramme op die herfs-ramveiling in Bloemfontein behaal.
Hy het al verskeie toekennings en sertifikate vir diens aan die Merinobedryf ontvang. Hy is ook nou betrokke by Merinoteling in Lesotho.
Dr. Brian de Villiers, hoofnavorser van die KGI, wie se spesialisveld onkruidbestryding is, word ook in Amerika erken as 'n uitmuntende wetenskaplike wat toegepaste navorsing na landbouhulpmiddels doen. Hy het al 74 wetenskaplike artikels en 21 artikels in plaaslike en internasionale vaktydskrifte gepubliseer. Hy het ook eweknie-beoordeling vir 31 vaktydskrifte gedoen.
Dr. De Villiers, wat 'n genoot van die SA Vereniging van Onkruidwetenskap (SAVO) is, is in 1994, 2000 en vanjaar genooi om navorsing aan die staatsuniversiteit van Noord-Dakota te doen.
Hy het al meer as 100 aanbiedings oor onkruidbestryding op boeredae, die radio, televisie en aan landbouraadgewers gedoen. Hy is onder meer met die Dave Annecke-toekenning vir navorsing vereer.
Byskrif vir foto:
Die Sentrale Streek van die Landbouskrywersvereniging van Suid-Afrika se Boer en Landboukundige van die Jaar is op 'n geselligheid by New Holland op Bothaville aangewys. Van links is mnre. Rudolf Barkhuizen, voorsitter van die Sentrale Streek, Eddie Prinsloo van die Heuningkrans-Merinostoetery, Smithfield, Boer van die Jaar, dr. Brian de Villiers, hoofnavorser van die Kleingraaninstituut in Bethlehem, Landboukundige van die Jaar, en mnr. Poenie van der Merwe, besturende direkteur van New Holland.
19 September 2003Alle regte voorbehou. © Landbou.com 2011. In Suid-Afrika gepubliseer deur Media24