Die jongste vlaag plaasaanvalle kwel Agri SA, veral as die modus operandi van die plaasaanval en onlangse moorde in KwaZulu-Natal in ag geneem word.
Mnr. Andre Botha, die voorsitter van Agri SA se veiligheidskomitee, sê: “Dis baie hartseer, veral as mens kyk na die erge brutaliteit van die moorde.”
Drie mense van die plaas Sherwood Farm naby Mooirivier is verlede week vermoor nadat die aanvallers vermoedelik ‘n brand op die plaas gestig het. Die eienaar van die plaas se vrou en twee werkers is vermoor tydens die geskarrel om die brand geblus te kry.
Hierop sê Botha: ”Wat moet ‘n boer maak as ‘n brand op sy plaas ontstaan. Moet hy bang in sy huis sit en wag totdat alles afgebrand het of iemand op hom geskiet het?”
In nóg ‘n voorval het ‘n boer van die plaas Vaalbank naby Bethlehem in die Vrystaat dood gespeel om sy lewe te bewaar tydens die tweede voorval op sy plaas dié jaar. Die drie verdagtes wou glo geld hê, en het die man oorrompel en herhaaldelik met ‘n mes gesteek. Hulle het te voet gevlug.
Opgewonde oor politieke uitsprake
Botha sê hulle is wel opgewonde oor die feit dat die LUR vir landbou in KwaZulu-Natal homself na die voorval sterk daaroor uitgespreek het. “Dit lyk of ons die stryd met die Regering om homself hieroor uit te spreek, gewen het.”
Oor die moontlikheid van ‘n veiligheidsberaad in KZN is Botha ook baie bly. Mnr. Robin Barnsley, die voorsitter van Kwanalu, sê niemand in die provinsie weet egter van die beraad waaroor die provinsiale departement van gemeenskapsveiligheid homself in die media uitgespreek het nie.
“Nie ons, die Polisie of die departement van landbou in die provinsie is al hieroor gekontak of ingelig nie. Hierdié is die een departement wat nooit die maandelikse vergaderings oor veiligheid en plaasaanvalle bywoon nie. So, ons weet nie wat hulle hiermee wil bereik nie, aangesien ons meen hulle is baie oningelig.”
Barnsley sê hulle is tevrede met hoe vinnig die Polisie op die toneel was en hoe die situasie tot dusver hanteer is, en hulle hoop arrestasies volg binnekort.
26 Julie 2010
Kommentaar
Elke keer as Agrisa sy opgewondenheid uitspreek oor die regering wat nou kwansuis iets gaan doen, sak my moed in my skoene in hulle voortgesette naiwiteit en onbeholpenheid in hierdie verband. Plaasaanvalle gaan slegs stop as die Boergemeenskap mobiliseer sodat almal dit kan sien, en hulle huiwerigheid staak om hulleself te verdedig. Agrisa kon lankal dreig met sanksies, plaasafsettings ens. al is dit bloot om die debat aan die gang te sit. Hulle kon lankal 'n sensus hou van ou mense wat kwesbaar is, en hulle kon lankal 'n foto uitstalling in Europa reel oor plaasmoorde. Daarom word opgevoede en beskaafde mense op hulle eie grond steeds ore aangesit deur onopgevoede misdadigers.
Moet tog nie net nie vra nou maar wat het ek al gedoen nie, want daardie vraag is ook nou al holrug gery (ek het te veel gedoen om dit hier te noem). As mens egter vra wat doen Agrisa, is daar maar bitter min wat hulle kan wys, behalwe as om die verantwoordelikheid na die regering te verplaas.
Ons voel almal geraak deur hierdie barbaarse aanvalle en moorde! Iewers moet daar n streep getrek word. Ons staan nou op 89 plaasmoorde vir 2010, dit gee jou 12 - 13 boere wat vermoor word per maand. Waar gaan dit eindig?
Lewer kommentaar. (Jy hoef nie ingeteken te wees nie.)