Daar is ‘n moontlikheid vir ligte reën langs die Tuinroete, voorspel die Suid-Afrikaanse Weer- en Rampinligtingsdiens, met matige temperature rondom 23 grade Celsius. Dít terwyl groot dele van die Langkloof asook die Franschhoek-omgewing steeds in vlamme gehul is.
Volgens die inligtingsdiens kan daar na verwagting tussen 1mm en 5mm reën neersak. Mnr. Andre de Witt, voorsitter van die Langkloof-boerevereniging, sê die brande wat dié omgewing teister het oor die naweek ontstaan en die grootste gedeelte van Misgund in die Suid-Kaap het reeds afgebrand.
Kyk na satellietbeelde van die brande.
Brande makliker beheerbaar
“Op drie plekke het die Langkloof deurgebrand na die see toe. Die ergste brande is nou in die Haarlem-gedeelte. Die wind wat vanoggend opgestaan het, het ook brande teen die kus af veroorsaak,” vertel De Witt. Hy sê vandag gaan die kwik na verwagting 38 grade Celsius in die Langkloof bereik.
Die huidige brand weens ‘n oostewind in die suidekant van die Tsitsikammaberge inbeweeg. “Ons het nog geen lewensgevaar ervaar nie, en niemand se huise word tans bedreig nie. Die boere kan die brande nou makliker beheer en verdere skade probeer voorkom.”
Voorbrande vir beskerming
Intussen sê me. Porchia Adams, Agri Wes-Kaap se korporatiewe kommunikasiebestuurder, voorbrande word op verskeie plekke gedoen om geboue te beskerm en die brandweer en gemeenskap werk onverpoosd voort om die brande te probeer blus.
Luidens ‘n verklaring is die brandweer se personeel en vrywilligers reeds baie moeg weens die lang diensure.
Franschhoek en Grabouw ook geteister
Volgens Adams het die brande in Franschhoek reeds groot skade aan ‘n olyfboorde, wingerde en ander plantegroei aangerig. Sy sê ‘n produsent wat ook palette op sy plaas vervaardig het groot skade gelei toe dié aan die brand geslaan het.
Sommige plase in die gebied is reeds ontruim. Die brand het glo verlede Donderdag in Assegaaibos begin en oor die naweek oor die berg beweeg.
9 Februarie 2010
Kommentaar
Lewer kommentaar. (Jy hoef nie ingeteken te wees nie.)