'n Klein kaasfabriek was 'n paar jaar gelede op die rand van bankrotskap. Danksy 'n drastiese ommeswaai in bestuurspraktyke die afgelope vier jaar, floreer di eeu oue onderneming nou.
Die Stormbergse Koöperatiewe Kaasfabriek in die omgewing van Jamestown en Burgersdorp was in 1996/97 in ernstige finansiële moeilikheid. Verkope het drasties gedaal, oorhoofse koste was te hoog en hy het nie wins gemaak nie.
Die besturende direkteur, mnr. Christie de Bruin, sê droogte, swak melkpryse en die suiwelbedryf wat onder druk was, het 'n rol gespeel, maar tonnelvisie by aandeelhouers was die kernoorsaak. "Ons het te gerus geraak omdat die fabriek toe al amper 'n honderd jaar lank oorleef het."
Deeglike strategiese beplanning deur die 13 aandeelhouers (boere van die omgewing) het tot 'n nuwe strategie in 1998 gelei.
Die eerste stap was om "nuwe bloed" in te kry. 'n Afgetrede suiwelkonsultant, mnr. Mof van Eden, het aandeelhouers gehelp om die fabriek se swak en sterk punte te identifiseer en om strategiese planne vir die kort, medium- en lang termyn op te stel. "Die fabriek se sterk punte is sterker gemaak en in bemarkingsgeleenthede omgeskep. Swak punte en omgewingsbedreigings is sover moontlik uitgeskakel."
Om die fabriek te sluit, was nie 'n opsie nie. Nagenoeg 500 mense sou hul werk verloor (fabriek- en plaaswerkers), aandeelhouers sou 'n broodnodige inkomste verloor, boere wat ten tye van die probleem hul melkstalle ten duurste verbeter het, sou ernstige verliese ly en grondpryse sou na raming met minstens R300/ha daal. Vanweë die gunstige klimaat en omgewing vir melkboerdery word heersende grondpryse op R800/ha tot R1 500/ha geskat.
Kredietverskaffing deur depots aan agente is vervang deur 'n beleid van kontantverkope. Alle risikovoorraad (kort raklewe) is teen spesiaal onderhandelde pryse van die hand gesit om uitstaande fabriekskuld te delg.
Deelnemende bestuur (multi-taakverrigting en die delegering van bestuurstake na alle aandeelhouers) is 'n voorkeursaak. Betaalde topbestuurders (nie-aandeelhouers) is vervang met aandeelhouer-bestuurders. Met die uitsondering van Van Eden, wat as gekoöpteerde direkteur aangestel is, mag net aandeelhouers direkteure wees. Van Eden is direkteur van gehalte- en higiënebeheer, personeelopleiding en die ontwikkeling van nuwe eksotiese kase. Hy is een van net agt opgeleide kaasmakers in die land wat nog kaas met die hand vervaardig.
Die vier produsentedirekteure (aandeelhouers) is mnre. De Bruin van die plaas Witkop, Theunis Lategan (sekeretaris) van Kareebos, Stefan de Vries (bedryfsdirekteur) van Streepfontein en Piet Swanepoel (openbare betrekkinge) van Gumdale. Hulle hou om die beurt by die fabriek toesig en boer tussendeur. Elke direkteur het aandeelhouers wat aan hom verslag doen en allerhande take verrig.
Twee middelbestuursposte word gevul deur mnre. John Sawule (hoofkaasmaker en produksiebestuurder) en Jonas Mnxeba (verpakkings- en versendingsbestuurder).
Die personeel is met die helfte verminder. Take is herverdeel om die oorblywende werkers optimaal te benut. Minder werkers doen meer werk vir meer geld. Onder die 13 algemene werkers is 'n leerlingkaasmaker, me. Marlise van Vuuren.
Die meeste werkers is ongeletterd en word volgens 'n metode van "vertel-wys-doen-taakwaarneming" opgelei. Vir elke taak is 'n werkinstruksie opgestel. Taakuitvoering word deurlopend deur die direkteur aan diens of die konsultant gemonitor en afwykings dadelik reggestel.
Twee depots in die Oos-Kaap en een in die Vrystaat wat bestuursprobleme opgelewer het, is gesluit.
Van Eden sê as 'n klein kaasfabriek suksesvol met grootmaatvervaardigers wil meeding, moet sy produk se gehalte bogemiddeld wees en die regte produk vir die regte mark vervaardig word.
"Kaasfabrieke wat bly bestaan, is dié wie se filosofie rondom gehalte gebou is. Jy moet 'n beter gehalte lewer as die beste. Stormberg het baie mededingers in die eksotiese kaasmark. Daar is talle ander klein kaasfabrieke in die land met dieselfde nismark as ons.
"Produkte van 'n swak gehalte (rou en verwerkte produkte) en swak higiëne was amper ons fabriek se ondergang. Daar was baie verbruikersklagtes oor die smaak, raklewe en verpakking van kase. Die gehalte van die melk was ook nie na wens nie weens onaanvaarbare bakterie- en somatiese tellings. Dit het tot hoë terugsendings en swak verkope gelei."
Dié probleme is nou uitgeskakel en die gehalte van die kaas is uitstekend.
Eers is net Gouda en Cheddar vervaardig. Nou word twaalf soorte kaas (en ook botter) gemaak, naamlik Cheddar, beleë Cheddar, Cheroki, Gouda, peperkaas, Edam, maaskaas, roomkaas, olyfkaas, mozzarella, Balena en Stormberger 1903.
Balena en Stormberger is twee nuwe eksotiese kase wat die afgelope jaar bemark is. Stormberger 1903 is 'n semi-harde kaas (tussen Cheddar en Gouda) met 'n unieke amandelagtige smaak, en Balena, wat reën in Italiaans beteken, is 'n kombinasie van vier verskillende soorte kaasstroke, naamlik gerookte Cheddar, Edam, olyfcheddar en peperkaas.
Volgens Van Eden konsentreer suiwelreuse veral op Gouda- en Cheddar-kaas. "Dit is dom om met reuse soos Clover of Parmelat mee te ding. Klein fabrieke vaar beter in die nismarkte vir eksklusiewe spesialiteitskase (hoëmargekase). Ons gaan 'n stap verder as ander klein kaasfabrieke. Baie van hulle vervaardig hoofsaaklik harde kase, wat 'n langer rakleeftyd het omdat hulle ver van hul markte is. Ons is naby ons markte en kan konsentreer op sagter kase met 'n korter rakleeftyd."
Produksie is beperk tot die hoeveelheid wat produsente kan lewer, bestaande masjienkapasiteit en markvraag. Kaas word al om die ander dag gemaak. Net as dit baie warm is, word elke dag kaas gemaak. Dit bespaar masjien- en arbeidskoste.
Agente hanteer hul eie bemarking. Bemarkingsveldtogte word net op die nismark toegespits en goeie klantesorg geniet voorkeur. Die fabriek neem nie meer aan skoue deel nie omdat hy in die verlede oorval is deur groot winkelgroepe wat die aflewering van groot volumes per week verlang. "Dit beteken grootmaat- en meganiese kaasvervaardiging wat nie deel van ons doelwitte is nie."
Die wins word in die fabriek teruggeploeg vir nuwe produkontwikkelling en om produsente goeie melkpryse te betaal. Geld word nie onnodig uitgegee nie selfs die honderdste bestaansjaar is konserwatief gevier.
Kleiner is beter
Melkprodusente met 'n eie kaasfabriek het 'n besliste voordeel. Stormberg koop net van sy produsente melk, aandeelhouers het medeseggenskap in die melkprysvasstelling en fabriekswinste word gebruik om aankooppryse te stabiliseer.
Mnr. Mof van Eden sê: "Wanneer ander kopers hul melkpryse afbring, bly ons s'n op dieselfde vlak. Ons koop steeds ons melk teen 'n hoër prys aan as die heersende markprys. Aandeelhouers kry die hoër winterprys van verlede jaar en nie die heersende laer somerprys nie."
Omdat die aandeelhouers nie net melkprodusente is nie, maar ook gemengde boerderye het, is hulle verseker van 'n bykomende inkomste uit vleis en wol. "Die onsimpatieke gesindheid van die huidige Regering jeens die landbou maak diversiteit in boerderyvertakkings 'n groot voordeel."
Hy sê klein kaasfabrieke wat hulle toespits op die eksotiese kaasmark, kan oorleef mits hulle weet wat hulle doen.
Mense wat nie genoeg kennis en ervaring van kaas maak en die nodige bestuursvaardigheid het nie, gaan gou onder. "Die Stormberg-suiwelgroep, bestaande uit die Stormberg-koöperasie (produksie) en Stormberg Suiwel (Bpk.) (operasionele, bemarkings-, finansiële en administratiewe been), het iets reg gedoen, want hy bestaan al langer as 100 jaar ondanks talle ekonomiese storms en te midde van ander fabrieke in die omgewing wat moes sluit.
"Toe die destydse Suiwelraad in die laat jare sewentig sy hulp aan kaasfabrieke onttrek het, het Stormberg dadelik agente in Oos-Londen, Port Elizabeth en Durban gekry. Hy het ook depots in Burgersdorp en Ladybrand oopgemaak en was daarna jare lank winsgewend."
Die kaasfabriek se koöperasiebeen gee hom 'n voorsprong. Van Eden glo dat van die ander kaasfabrieke ondergegaan het omdat sommiges wegbeweeg het van die koöperasie-ondernemingsvorm. "Koöperasies het 'n sterker bedingingsmag as groot maatskappye wat volgens die verbruiker op suiwer winsbejag ingestel is. Plattelandse koöperasies se beeld is veral goed by verbruikers boerderybedrywighede is 'n ekonomiese inspuiting vir hul gemeenskappe. Baie dorpe kan nie sonder boere voortbestaan nie."
Die Stormberg-kaasfabriek geniet 'n gunstige klimaat vir melk- en kaasproduksie. Die omgewing van Witkop is een van die koudste melkproduserende gebiede in die land (wintertemperature tot minus 21 grade C en somertemperature van 25 grade C). Die reënval is gemiddeld 100 mm hoër as in die res van die gebied (900 mm per jaar).
"Ons is die kleinste fabriek in die land wat deur sy aandeelhouers self bestuur word. Ons het 'n voorsprong bo grotes want ons kan vinnig by nuwe tegnologie aanpas." Dertien boere lewer daagliks 6 000 liter melk wat gebruik word om 600 kg kaas te maak. Die fabriek het sy bestaande 13 produsente behou. Daar was op 'n tyd 200, maar dood, aftrede, en onttrekking weens swak ekonomiese toestande en 'n onbestendige suiwelsituasie het die getal verminder.
'n Paar geheime
Die Stormberg-kaasfabriek se hoofkaasmaker, mnr. John Sawule, verklap hier 'n paar geheime van kaas maak.
Hoe beter die gehalte van die melk, hoe lekkerder die kaas. Goeie gehalte begin by die klimaat waarin die melk geproduseer word. Koeie is besonder gevoelig vir hitte. Hittestres benadeel melkproduksie. Hoe minder stres, hoe beter die gehalte van die melk en die kaas. Die koue omgewing om die fabriek is ideaal vir kaas maak.
Kaas maak is 'n fyn kuns. Jy werk die hele tyd met 'n rou produk waarvan die vaste stowwe en samestelling gedurig wissel en verander. Jy moet die kaasmaakproses gedurig daarby aanpas. Klein kaasmakers, soos ek, vind dit makliker om lekker kaas te maak as massavervaardigers met hul meganiese metodes.
Die hand-oog-metode werk beter as meganiese kaasmaakmetodes. Die oomblik wanneer ek die gehalte van die melk sien, weet ek al hoe ek die vervaardigingsproses moet aanpas om die ideale kaas te maak.
Kaas neem lank om ryp te word van vier weke vir Gouda tot ses maande vir beleë Cheddar. Jy moet die kaas fyn dophou om die regte aanpassings te kan maak. Ek bekyk, bevoel en proe die kaas die hele tyd totdat ek tevrede is met die tekstuur, ens. By meganiese kaasvervaardiging verloor jy daardie fyn beheer.
19 Maart 2004