JAN CILLIERS
Die Internasionale Katoenadvieskomitee (ICAC) reken dat katoenproduksie vanjaar sowat 'n miljoen ton minder as die verbruik sal wees. Dit sal beteken die voorraadvlakke gaan op 31 Julie die laagste in nege jaar wees.
Die plaaslike katoenoes word, volgens die derde skatting, op 126 677 bale veselkatoen vir die huidige seisoen geskat. Dit is effens meer as die vorige skatting en 51 % meer as verlede jaar se oes. Die groter oes word hoofsaaklik aan die beter wêreldprys toegeskryf wat plaaslike boere 39 % meer hektare laat aanplant het as in die vorige seisoen.
Die verwagte Cotlook A-indeks vir die 2003/04-seisoen kan tot 1 058,28 c/kg (75 Amerikaanse sent/pond) styg. Dit is 267,90 c/kg (19 c/pond) of 34 % meer as die vorige seisoen en die hoogste in ses jaar.
In die noordelike halfrond het boere reeds begin katoen plant met die internasionale prys die hoogste sedert 1997. Dié goeie prys sal produksie waarskynlik prikkel en verbruik inperk. Die ICAC beraam die wêreldwye oppervlakte onder katoen in 2004/05 sal met ses persent tot 43,5 miljoen hektaar toeneem.
Dit kan tot 'n rekordproduksie van 22,2 miljoen ton katoen lei sowat 10 % meer as die huidige seisoen se produksie. Net China sal na verwagting vanjaar produksie met 'n rekord 29 % (6,3 miljoen ton) opjaag.
Amerikaanse boere sal na verwagting weer twee persent minder katoen plant weens die mededinging van sojabone. Die ICAC voorspel die Amerikaanse oes kan met tot 3,9 miljoen ton afneem.
Weens die lae pryse sedert 1999 het katoenverbruik in dié tyd met 15 % gestyg. Die ICAC verwag dat die verbruik vir die volgende seisoen met nie meer nie as sowat een persent sal styg.
Nog 'n rede wat vir die verlangsaming van verbruik opgegee word, is die feit dat poliësterpryse tans sowat 25 % goedkoper as katoen is en klerevervaardigers dus meer van dié chemiese vesel gebruik.
Amerikaanse uitvoerders sal waarskynlik vanjaar weer die botoon voer met 42 % van die wêreldmark in die huidige seisoen. China voer sowat 61 % van sy katoeninvoer uit Amerika in. 23 April 2004