Klag teen Eskom by Openbare Beskermer

 

Die Vryheidsfront Plus (VF Plus) het ‘n formele klag oor beweerde gebrekkige bestuursvaardighede binne Eskom by die Openbare Beskermer (OB) gelê.

Luidens ‘n verklaring van die party het hy voorheen onderneem om die saak na die OB te verwys sodra Nasionale Energiereguleerder (Nersa) se besluit oor kragtariefverhogings bekend gemaak is.

“Daar blyk soveel aanduidings van onreëlmatighede binne Eskom te wees dat dit ‘n onafhanklike en volledige ondersoek deur die OB regverdig,” sê adv. Anton Alberts, die party se parlementêre woordvoerder oor energie.

Verlaagde tariewe vir 138 maatskappye?
Alberts sê wat tot die klag bygedra het is die bekendmaking van die feit dat Eskom krag teen ‘n drasties verlaagde tarief aan 138 onbekende maatskappye verskaf.

Die maatskappy weier glo om, op grond van kontraktuele terme, aan die betrokke ministers en die Parlement bekend te maak wie die maatskappye is, en wat die motivering vir die lae tarief is.

Inkomste uit die landbou en huishoudings
Die VF Plus meen dit beaam die standpunt dat Eskom oormatig steun op die inkomste wat van huishoudings en die landbou ontvang word, en dit gebruik om ander bedrywe in die geheim te subsidieer.

“In dié verband gaan die VF Plus ‘n aansoek aan Eskom rig, in terme van die Wet op Bevordering van Toegang tot Inligting, om bekend te maak wie die maatskappye is wat bevoordeel word, teen watter tarief, asook die terme van die kontrak in elke geval. Dit is die party se mening dat Eskom nie sal kan skuil agter die feit dat die kontraktuele terme van vertroulikheid hom verbind tot geheimhouding nie,” verduidelik Alberts.

Die party is ook van plan om verdere ondersoek in te stel na die geldigheid van Nersa se besluit om ‘n verhoging in tariewe aan Eskom toe te staan. Dít in die lig daarvan dat Eskom ‘n wesenlike wanvoorstelling geskep het in sy tariefaansoek deur nie melding te maak van die gesubsidieerde kontrakte nie.

Subsidies aan boere
Intussen berig Landbouweekblad in die uitgawe van 12 Maart dat daar ‘n moontlikheid bestaan dat die landbousektor wel ‘n kragsubsidie kan ontvang. Dit volg nadat pres. Jacob Zuma ‘n duidelike mandaat gegee het aan ministers verantwoordelik vir die ekonomiese en energiesektore om met ‘n volhoubare plan rakende elektrisiteitstariewe vorendag te kom.

‘n Interministeriële taakspan is aangestel om die Regering se finansieringsmodel vir Eskom en ander energiekwessies in die land te bekyk.

11 Maart 2010

3
 
 

Kommentaar

Attie

Daar is seker 'n paar van hierdie maatskappye in Richardsbaai. Tata Steel het tog net na SA gekom met sy Ferrochroom aanleg omdat die krag hier goedkoop is. Eskom sal by sy kontrak moet hou. Wat van Bayside en Hillside Aluminium smelters. Seker selfde storie daar. Wonder of ou Bob nie ook lekker goedkoop wegkom nie?

DELLA gratiskrag@gmail.com 

Goeie dag Boere. Ons vervaardig hier in Amerika n WIND TURBINE KRAG OPWEKKER, en verkoop dit aan plaasboere en huis eienaars regoor die land. Die WIND TURBINE KRAG OPWEKKER werk met die wind. Hoe meer wind waai hoe meer krag word opgewek en hoe meer krag kan jy ook bespaar in die wind turbine se sisteem. Die krag is verniet jy het net die wind nodig. Die kostes om die wind tubine krag opwekker te koop is heeltemal bekostigbaar vir die normale persoon. Nadat die sisteem opgestel is in jou huis of waar jy dit ookal nodig het is jou krag verniet, en enige verplasing van parte as dit nodig is word vir 25 jaar gewaarborg. Kontak ons by gratiskrag@gmail.com en ons kan die nodige informasie, fotos, diagramme en dvds vir julle deur epos.

Butch

Dit is jammer dat dit meestal net die VF, Solidariteit en TLU wat bereid is om vir die belang van die verbruiker en boer op te staan en selfs daarvoor Hof toe te gaan. Die meriete van die saak hierbo na verwys is algemene kennis die Wêreld deur en almal lag vir die kleptokrasie in SA en vind dit afstootlik. Selfs die regerende party neem nou al lustig daaraan deel. Die regering begin hom nou selfs manifesteer as 'n teenstander van regverdigheid en appelleer wragtig teen die hofbeslissing oor Kaptein Barnard. Bid jou dit aan! Watter boodskap dra dit aan die internasionale gemeenskap oor? Dat daar geen plek in bevelstrukture vir enige "wittes" is nie en dat die administrasie in die land maar ten gronde kan gaan? Dankie VF Plus! Dalk kan die gemors op een of of ander manier gestop word. Ek meen, daar is darem grense aan wanadministrasie!

Lewer kommentaar. (Jy hoef nie ingeteken te wees nie.)

Jou e-pos adres sal nie vertoon word nie.