Die bewaring van skaars en kosbare diere se selle en weefsel moet voortgaan en die nodige tegnieke, waar moontlik, moet ontwikkel word sodat dit eendag gebruik kan word tot voordeel van wild.
Dr. Paul Bartels van die Trust vir Bedreigde Natuurlewe het op 'n sake-ontbyt van AfricaBio oor biotegnologie en die omgewing gesê daar is breë instemming oor dié konsep.
Dr. Bartels, hoof van dié trust se natuur- en biologiese navorsingsentrum, het gesê kloning is die enigste tegnologie wat potensieel gebruik kan word om genetiese verteenwoordiging van oorblywende enkelinge te kry wat nie meer self die vermoë het om natuurlik tot die totale populasie se geenpoel by te dra nie.
Tweedens kan dit geendiversiteit aan geneties verarmde populasies terugbesorg. Teoreties is dit die enigste manier om "nuwe" geendiversiteit aan kritiek bedreigde spesies terug te besorg.
"Kloningstegnologie ontwikkel vinnig ten opsigte van die mens en mak diere. Dit is moontlik dat bewaarders op dié gebeure se rug kan ry, wat dit moontlik kan maak dat dié tegnologieë sekere wildsoorte geredelik en meer ekonomies kan bevoordeel.
"As kloning vir bewaringsaksies gebruik word, sal dit slegs 'n paar uitgesoekte soorte wild bevoordeel. Sommige hiervan sal aangewese soorte in spesifieke habitatte wees, wat die beskerming van meer habitatte, dus ook soorte wild, kan beïnvloed," het dr. Bartels gesê.
"Met die verbetering van die wetenskap en tegnologie rus toenemende verantwoordelikheid op wetenskaplikes om in die beste belang van die publiek op te tree. Dus is dit belangrik dat elke wetenskaplike in beheer moet wees van die beste wat die wetenskap bied en nie meegesleur sal word deur 'n euforie van die huidige massiewe inligtingsomgewing nie," het hy gesê.
21 November 2003