|
|
|
| Bygewerk: | 26 May 15:00 IDT |
| Temp: | |
| Druk: | |
| Doupunt: | |
| Humiditeit: | 72% |
| Wind: |
Die Nasionale Oesskattingskomitee se aanpassing van die 2001/02-produksiejaar se mielie-oes het groot verwarring in die mieliemark veroorsaak, sê mnr. Bully Botma, voorsitter van Graan SA.
Die komitee het gepoog om die totale mielie-oes van die 2001/02-produksiejaar te bepaal en het die SA Graaninligtingsdiens (Sagis) se leweringsyfers daarvoor gebruik. In jare wanneer boere vroeg stroop, word een produksiejaar se oes in twee bemarkingsjare gelewer. Die 2002/03-bemarkingsjaar, die jaar waarin die 2001/02-produksiejaar se oes bemark word, is só 'n geval.
Boere wat vroeg gestroop het, het in 2001/02 pleks van die 2002/03-bemarkingsjaar gelewer. Dit is só deur Sagis gerapporteer. Die komitee het hierdie vroeë lewering by die 2001/02-produksiejaar se oes getel.
Die manier waarop die komitee hierdie inligting beskikbaar gestel het, bring verwarring, sê mnr. Botma. Dit lyk asof 'n ekstra een miljoen ton mielies in die mark beskikbaar is, terwyl dit bloot 'n verskuiwing van een bemarkingsjaar na 'n ander is en geen invloed op die totale mielievoorraad het wat vir bemarking beskikbaar is nie.
Graan SA aanvaar die jongste oesskatting, maar is verbaas dat dit nie afwaarts aangepas is nie, het mnr. Botma gesê.
Die komitee sê met die bepaling van 2001/02 se totale kommersiële mielie-oes is die werklike lewering (8,492 miljoen ton) van Mei verlede jaar tot Januarie vanjaar in ag geneem, sowel as vroeë lewerings in Februarie, Maart en April verlede jaar (780 000 ton). Daar is ook voorsiening gemaak vir lewering in Februarie en Maart vanjaar (24 000 ton). Die totaal beloop, volgens Sagis, 9,296 miljoen ton.
Volgens die Departement van Landbou se opname beloop die terughouding van mielies op plase 436 000 ton, wat 'n totaal van 9,732 miljoen ton gee. Die terughouding van mielies op plase word nie deur Sagis gemonitor nie en raak dus nie die voorraadvlak nie.
4 April 2003Alle regte voorbehou. © Landbou.com 2011. In Suid-Afrika gepubliseer deur Media24