|
|
|
| Bygewerk: | 26 May 15:00 IDT |
| Temp: | |
| Druk: | |
| Doupunt: | |
| Humiditeit: | 72% |
| Wind: |
Die voortslepende droogte in die Suid-Kaap bly ‘n bron van ernstige kommer vir boere sowel as Agri Wes-Kaap. Sommige groenteboere het opgehou plant en alle boere sukkel om te oorleef. Veeboere veral ondervind ‘n tekort aan kontant omdat hulle vir lang tydperke voer vir hul diere moet aankoop.
Luidens ‘n nuusverklaring het die droogte tot dusver geen beduidende invloed op die voorsiening en beskikbaarheid van melk uit die Suid-Kaap gehad nie, aangesien baie boere verkies het om hul diere ‘n volledige en gebalanseerde dieet te voer om produksie te verhoog, maar dit bring mee ‘n groot toename in insetkoste. Indien die duur voedingsprogramme nie volgehou kan word nie kan dit ‘n potensiële afname in melkproduksie in die Suid-Kaap beteken. Die Wes-Kaap produseer ongeveer 25% van die land se melk, waarvan die Suid-Kaap en Swartland die grootste gebiede is.
Produsente in Riversdal en Heidelberg word net só geraak deur die droogte as dié in George, Knysna, Mosselbaai en die res van die droogtegeteisterde Suid-Kaap. Die Korentepoortdam in Heidelberg het slegs 35,5% water in vergelyking met dieselfde tyd verlede jaar toe die dam 83,7% vol was. Die Duiwenhoksdam is 39,6% vol, vergeleke met 85,5% verlede jaar.
Waterbeperkings
Tans geld ‘n waterbeperking van 70% op die landbou in die streek en produsente ontvang dus slegs 30% van hul normale watertoekenning per jaar. Wanneer die 30%-toekenning opgebruik is, moet boere sonder water klaarkom vir die res van die jaar. Dit sluit uit die water-toekenning vir huishoudelike doeleindes en die spesiale toekenning van 10 kubieke meter vir gebruik in melkerye.
Die provinsiale departement van landbou het geld beskikbaar gestel aan veeboere vir die vervoer van voer na dié gebied. Agri Wes-Kaap het die departement gehelp met ‘n aansoek vir verdere bystand uit die Nasionale Ramphulpfonds vir boere in die Suid-Kaap en ons hoop dat die aansoek suksesvol sal wees.
Een goeie aspek wat uit hierdie ramp voortgevloei het is dat nie slegs produsente nie maar almal in die Suid-Kaap nou meer bewus is van waterbesparing en die doeltreffende gebruik van hierdie skaars hulpbron, lui die verklaring.
22 Januarie 2010
Alle regte voorbehou. © Landbou.com 2011. In Suid-Afrika gepubliseer deur Media24