Kommer oor grondbeleid en Groenskrif

 

Groot kommer heers binne die landbousektor oor die verwagte Groenskrif oor grondhervorming en die uitwerking daarvan op voedselsekerheid, sê Agri SA.

Dít volg na uitsprake van pres. Jacob Zuma en ander regeringsamptenare oor die afgelope drie maande dat hulle meer aggressief en fundamenteel wil vorder wat grondhervorming aangaan.

“Dit is in niemand se belang, en veral nie dié van armes, om drastiese maatreëls vir grondhervorming daar te stel wat vertroue kan skend en voedselsekerheid in die gedrang kan bring nie. Gebreke in die toepassing van die bestaande beleid moet eerder reggestel en vennootskappe met die privaatsektor  gesluit word om volhoubare en versnelde grondhervorming te verseker,” sê mnr. Johannes Möller, voorsitter van Agri SA.

Administratiewe onbeholpenheid met die uitvoer van die grondbeleid is die hoofoorsaak vir die Regering se oorweging van radikale veranderings aan die beleid, om die ANC se Polokwane resolusies te eer, sê Möller. 

Behoorlike konsultasie nodig
Volgens Möller het die Ministeries van Landbou, Bosbou en Visserye asook Landelike Ontwikkeling en Grondhervorming nie, soos wat aangedui is, met georganiseerde landbou oor die hersiening van die beleid beraadslaag nie.

“Agri SA is bekommerd dat konsultasie na die publikasie van ‘n Groenskrif oor dié belangrike en hoogs emosionele saak min beweegruimte vir veranderings kan laat.  ‘n Groenskrif verteenwoordig die mening van die Regering.  Uitlatings van politici maak ons dus ernstig bekommerd oor moontlike oormatige regulering deur die staat wat markbeginsels sal ondermyn.” 

Möller sê konsultasie met alle betrokke partye is nodig sodat ekonomiese vooruitgang en voedselsekerheid nie in gedrang kom nie.

Die organisasie het weereens ‘n versoek aan die Regering gerig om die knelpunte rakende grondhervorming en die betrokke beleide te bespreek. Agri SA verwag dat ander sektore, wat ook ‘n belang by eiendom en ekonomiese groei het, die proses ten nouste sal volg.

9 Junie 2010

3
 
 

Kommentaar

Onbekende besoeker - yolande 

Zimbabwe hier kom ons....

Lewer kommentaar. (Jy hoef nie ingeteken te wees nie.)

Jou e-pos adres sal nie vertoon word nie.