JAN CILLIERS
Kleiner opbrengste as wat verwag is, hoofsaaklik weens droogtetoestande wat in die koringproduksiegebiede heers, het die Nasionale Oesskattingskomitee genoop om sy derde oesskatting vir koring met 109 100 te verklein tot 'n verwagte oes van net 1,565 miljoen ton. Die komitee skat die gemiddelde opbrengs nou net 2,09 t/ha hektaar teenoor 'n maand gelede se skatting van 2,24 t/ha en die vorige oes se 2,47 t/ha.
Die verwagte opbrengs vir die Wes-Kaap het effens, van 1,5 t/ha tot 1,6 t/ha, gestyg. Die vorige seisoen se opbrengs was 'n stewige 2,45 t/ha. Volgens die oesskattingskomitee het dele van die Wes-Kaap 'n ongewone droë winterseisoen gehad. Dit is veral boere in die Swartland wat ernstig hierdeur geraak is.
Die verwagte opbrengs vir die Vrystaat is afwaarts aangepas van 2,1 t/ha tot 1,7 t/ha. Deurdringende reën is nou dringend in die Vrystaat nodig, aangesien grondvogvlakke in dié provinsie tans kritiek laag is. Koring is tans in die blomstadium en dus uiters sensitief vir droogtetoestande.
In Noordwes is die verwagte opbrengs effens aangepas van 4,75 t/ha tot 4,65 t/ha.
Wat gars aanbetref, skat die komitee die oes nou op 239 101 ton wat 347 ton minder is as die vorige skatting. Die kanola-oes is afwaarts aangepas met 4 330 ton tot 36 440 ton. Die verwagte oes vir soetlupine is drasties verminder teenoor verlede maand se skatting. Dié oes word nou op net 3 030 ton geskat -- 2 020 ton of 40 % minder is as die vorige skatting. Soetlupine word hoofsaaklik in die Swartland verbou waar dit ernstig deur die droogte geknou is en 'n opbrengs van net 300 kg/ha verwag word.
31 Oktober 2003