‘Kry hindernisse uit boere se pad’

 

Elke kommersiële boer in Suid-Afrika sorg vir sowat 1 800 mense en dit is die Regering se taak om te hindernisse wat in sy pad van volhoubare produksie staan, uit die weg te ruim, het mnr. Ben Marais, voorsitter van die TLU SA, vanoggend (Woensdag) op die organisasie se kongres in Pretoria gesê.

Dit is egter nie altyd die geval nie. Dit lyk of politieke speletjies in sommige ultra-linkse kringe, soos Cosatu, die SAKP en die ANC-Jeugliga, baie belangriker is as om die regte dinge te doen om die ekonomie te laat gedy. Dit lyk asof dié groepe ’n beduidende rol speel en nog gaan speel, het hy gesê.
 
Marias het verwys na populistiese, opruiende uitsprake teen boere wat nie gerepudieer word nie en ’n ongunstige klimaat skep waarbinne boere moet produseer.
 
Hy se ook “skrikwekkende” besoedeling en die prys van regstellende aksie lê die land se vermoë om te presteer, erg aan bande.
 
Sosiaal-maatskaplike probleme word ook in al hoe groter mate na die landbou gekanaliseer. “Volhoubare werkskepping is die enigste oplossing en landbou het nie die vermoë om die groot behoefte daaraan alleen te oorbrug nie.
 
“Indien die Departement van Landbou erns het met sy taak om boere in staat te stel om  volhoubaar te bly boer, sal die kundigheid en advies van kommersiele boere beter benut word alvorens beleidsuitsprake gemaak word.
 
“Die verhouding met die Regering sal ’n proses bly waar deurlopend beding word vir rasionele denkprosesse.”
 
Hy het egter bygevoeg dat die TLU SA toekomsgerig is en werklikhede aanspreek. “Die organisasie sal die gunstige klanke uit die Regering benut, maar die pad met versigtigheid stap.”
 
Marais het ook verwys na oproepe om eenheid in die landbou en gesê daar is heelparty aspekte waar standpunte gedeel word “maar daar kan nie eenheid in struktuur wees waar fundamentele verskille heers nie.” Gesprekke duur egter voort.
 
9 September 2009
0
 
 

Kommentaar

Lewer kommentaar. (Jy hoef nie ingeteken te wees nie.)

Jou e-pos adres sal nie vertoon word nie.