|
|
|
| Bygewerk: | 26 May 15:00 IDT |
| Temp: | |
| Druk: | |
| Doupunt: | |
| Humiditeit: | 72% |
| Wind: |
'n Boer as enkeling kan nie die Regering op enige vlak beïnvloed nie en daarom is dit van deurslaggewende belang om 'n organisasie te skep wat namens alle boere in Suid-Afrika kan praat. Dié boodskap kom van mnr. Lourie Bosman, ondervoorsitter van Agri Suid-Afrika, wat op Kwanalu se kongres in Pietermaritzburg, oor die toekoms van die georganiseerde landbou gepraat het.
Hy het gesê die landbou-omgewing het dramaties verander. "In die verlede was Suid-Afrika 'n betreklik landbouvriendelike omgewing, maar deesdae ontvang die landbou min van die ondersteuning wat hy nodig het."
Hy glo die landbou moet homself só struktureer dat een organisasie die probleme van al die sektore binne die landboubedryf hanteer. Kommersiële boere moet nie afgeskeep word nie, maar die ontwikkelende landbou moet terselfdertyd bevorder word.
Mnr. Bosman sê Agri SA ondersoek nou tekortkominge in die struktuur van sy organisasie sodat 'n meer vaartbelynde organisasie voorgestel kan word. Hy het gemaan dat die geld vir enige herstrukturering en toekomstige finansiering van die organisasie van onder af sal moet kom.
Agri SA het kontantvloeiprobleme ondervind, onder meer weens 'n gebrek aan geldelike steun van sy filiale. "Om 'n diens te kan lewer, moet ons voldoende gefinansier word." Agri SA het al sy reserwebronne opgebruik en moet nou ná jare sy ledegeld van filiale se kant af verhoog. Dit kom neer op sowat R200 per lid.
Hy sê Agri SA geniet hoë aansien by die Regering en sy geloofwaardigheid is bo verdenking. Dit bekommer hom dat daar soms lede is wat die waarde van só 'n nasionale organisasie bevraagteken.
Mnr. Hans van der Merwe, uitvoerende direkteur, het gesê Agri SA se finansiering uit eie bronne het van 80 % in 1995 afgeneem tot net meer as 30 % vandag. Hy sê geen organisasie kan oorleef as só 'n klein gedeelte deur ledegeld gefinansier word nie.
Hy sê bates moes benut word om uitgawes te delg en as daar só voortgegaan word, kan alles binne die volgende twee tot drie jaar opgebruik word en dit sal dwaas wees.
Affiliasies het in die verlede uitgawes goedgekeur vir noodsaaklike dienste sonder dat vir genoeg geld voorsiening gemaak is. 'n Nuwe benadering is nodig.
3 Oktober 2003Alle regte voorbehou. © Landbou.com 2011. In Suid-Afrika gepubliseer deur Media24